Diana, Prinses van Wallis was die eerste vrou van Sy Koninklike Hoogheid, Prins Charles. Twee seuns is uit die koninklike huwelik gebore, nl. William en Harry. Sedert haar huwelik in 1981 tot en met haar egskeiding in 1996 het sy as Haar Koninklike Hoogheid die Prinses van Wallis bekend gestaan. Sy was algemeen in die media as Prinses Diana bekend, ten spyte daarvan dat sy geen aanspraak op dié titel gehad het nie, synde dit net vir 'n prinses deur geboortereg gereserveer is.
Sy was beroemd vir haar inspirerende liefdadigheidswerk, maar ook vir die skandale wat haar huwelik geteister het. Haar bittere aantuigings van ontrouheid en wreedheid teenoor haar man het in die 1990's baie media-aandag geniet. Baie biografieë, tydskrifartikels en TV-dramas het gevolg.
Sedert haar verlowing aan Prins Charles in 1981 tot met haar dood in 'n motorongeluk in 1997, was Prinses Diana waarskynlik die beroemdste vrou ter wêreld. Sy was 'n mode-ikoon, 'n ideale voorbeeld van vroulike skoonheid, bewonder en nageboots vir haar hoëprofielbetrokkenheid by vigs-aangeleenthede.