Tikal is een van die grootste argeologiese vindplekke en stedelike gebiede van die Voor-Colombiaanse Maya-beskawing met merkwaardige ziggoerate. Dit is in die argeologiese streek van die Petén-bekken in die noorde van die huidige Guatemala geleë. Tikal lê in die department El Petén, maak deel uit van Guatemala se Nasionale Park Tikal en is in 1979 deur UNESCO as wêrelderfenisgebied gelys. Die historiese naam van die stad was vermoedelik Mutal, maar die presiese vertaling is onduidelik, moontlik kan dit met "blom" vertaal word.
Tikal was die hoofstad van 'n verower-staat, wat die nabygeleë kleinstate verower het en een van die mees magtigste koninkryke van die antieke Maya geword het. Daarmee het Tikal in 'n intensiewe wedywering met Calakmul begin, wat met die latere verowering van Calakmul geëindig het. Hoewel monumentale argitektuur op die terrein so ver as die 4de eeu v.C. terug dateer, het Tikal sy hoogtepunt tydens die Klassieke periode bereik, wat ca. tussen 200 en 900 n.C. geduur het.