Wallis is een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk. Dit lê in die suidweste van Groot-Brittanje en word deur die Engelse graafskappe Cheshire, Shropshire, Herefordshire en Gloucestershire in die ooste, die Kanaal van Bristol in die suide, die Sint-Georgekanaal in die suidweste en die Ierse See in die weste en noorde begrens.
Soms word na Wallis ook as die Vorstedom van Wallis verwys, alhoewel die Prins van Wallis nie by die regering van die land betrokke is nie en hierdie naam nie deur alle bewoners van Wallis goedgekeur word nie.
Wallis het nooit as 'n soewereine staat bestaan nie, en die Walliese deelkoninkryke is in 1282 deur Engeland geannekseer, nadat die Engelse koning Edward I in die Slag van Cilmeri 'n oorwinning oor die Walliese monarg Llywelyn II behaal het. Die Walliese Reg is egter in sommige plekke tot die afkondiging van die nuwe wetgewing oor regsake in Wallis in die jare 1535 tot 1542 behou.
Cardiff, die grootste stad van Wallis, is in 1955 as sy hoofstad aangewys, terwyl die Prins van Wallis 'n amptelike woning in Caernarfon het. Die plaaslike parlement, die Nasionale Vergadering van Wallis, is in 1999 ná 'n referendum gevorm.