1939 – 1989

Deur die geskiedenis geskei

Polish History Museum

Die doel met die projek "Deur die geskiedenis geskei" is om een van die traumatiesste Poolse ervarings van die 20e eeu weer te gee – die skeiding van families tussen 1939 en 1989 weens onder meer hervestiging en deportasie in die oorlogstydperk, politieke gevangenskap en besluite wat in die kommunistiese era geneem is om om politieke of ekonomiese redes na die Weste te emigreer.

Só wil ons die nagedagtenis van geskeide families bewaar, die geskiedenis van die Pole tuis en die geskiedenis van Poolse emigrasie verbind, en ook die jong generasie aanmoedig om in die geskiedenis van hul familielede of bekendes belang te stel.

Elke vertelling en verhaal is waardevol, want geen twee familieverhale is identies nie. Hulle verdien almal om aangeteken te word, want hulle is 'n getuienis van die omvangryke ervarings en kompleksiteite van die lewe in die 20e eeu in Pole en in ander lande in die streek.

Die Imiłkowski-gesin se lot was dieselfde as dié van duisende Pole wat in die gebied gewoon het wat deur die Derde Ryk geannekseer is en wat aan massateregstellings, deportasie, gevangenskap in konsentrasiekampe en dwangarbeid onderwerp is. Die geskiedenis van die Imiłkowski-gesin is in die eerste plek die verhaal van hulpelose kinders wat met geweld en dood gekonfronteer is. Dit is ook die verhaal van ouers wat nie hul kinders teen boosheid en lyding kon beskerm nie.

Maria, die oudste dogter van Irena en Zygmunt Imiłkowski, het saam met haar ouers en hul ander kinders – Halina, Zofia en Zbigniew – in Plewno, 'n dorpie in Pommere, gewoon. Haar grootouers aan moederskant het daar naby gewoon. Haar pa, Zygmunt Imiłkowski, is in Augustus 1939 by die huis weg om in die leër te gaan dien. Zygmunt het in die 29e ligteartillerie-regiment by Grodno geveg van waar hy ná 'n swerftog van 'n maand teruggekeer het huis toe.

Irena en Zygmunt Imiłkowski, 1937
Herinneringe van Maria Brylowska (née Imiłkowska), 2009
Plewno is by die Gdańsk-Wes-Pruisiese distrik van die Reich ingeskakel. Die Imiłkowski's se plaas is deur 'n Duitser oorgeneem wat hulle in een vertrek in hul voormalige huis laat woon het.
Leon Kowalski, Maria se oupa, was 'n bekende aktivis van die Pools-Westerse Unie wat in die Eerste Wêreldoorlog in die Legioene geveg het. Soos baie verteenwoordigers van die Poolse elite is hy in die herfs van 1939 in hegtenis geneem en deur 'n vuurpeleton tereggestel en in Górna Grupa (naby Grudziądz) begrawe.

Die Nazi's het beplan om van Pole en ander Slawiese mense, as minderwaardige rasse, slawe te maak. Hulle het alle onderwysinstelling op sekondêre en hoër vlak, asook kulturele instellings gesluit. Lede van die Poolse elite is óf vermoor, óf na konsentrasiekampe gestuur.

Sertifikaat wat bevestig dat die Legioenkruis (die kenteken van die Vereniging van die Lede van die Poolse Legioene) aan Leon Kowalski toegeken is, 1927

Die Imiłkowski-gesin is in Desember 1941 na 'n kamp in Potulice gedeporteer. Die toestande in die kamp was uiters moeilik – gevangenes het weens honger, siekte en koue gely. Die ergste was egter die gedwonge skeidings. Eers is Maria se pa gestuur om in 'n vliegtuigfabriek te gaan werk. Toe word haar suster Halina ernstig siek en is sy na 'n hospitaal in Bydgoszcz gestuur. Sy was so swak dat sy ná haar teruggekeer na die kamp met 'n stok moes loop. Die moeilikste was die skeiding van haar ma, wat in die lente van 1942 gestuur is om op die landgoed van 'n herehuis te gaan werk. 'n Maand later het 'n kamptrustee Zofia en Zbigniew weggeneem. Maria en Halina het alleen oorgebly.

Die Imiłkowski-gesin se kampnommer wat aan die pa uitgereik is, 1941
'n Liedjie wat kinders in die Potulice-kamp geskep en in die geheim gesing het, 1941-1944

"Toe het hulle ons na die barak aangery. Dit was onverhit, oorvol, koud en donker. Ons gesin van ses het 'n gebied van drie vierkante meter gekry om te deel. Ons het op die kaal grond op 'n strooimatras gelê; daar was hoegenaamd geen vloer in die barak nie. Daar was krake en splete in die mure; die vertrek het nie vensters gehad nie. Die skuins dak het tot byna by die grond gestrek. Dit was onmoontlik om daar te staan of te sit; mens kon net bly lê. Só het al die gesinne saamgedruk gelê, die een langs die ander: mans, vroue en kinders. Daar was geen lopende water of rioolstelsel in die barak nie. Die toilette was buite. Mens kon net in die middel van die barak regop loop.

Die kinders het hulself natgemaak en aan diarree gely; daar was geen manier om mens te was of om nat onderklere of klere te laat droogword nie; daar was luise, vlooie en brandsiekte."

Uit die lewensbeskrywing deur Maria Brylowska (née Imiłkowska), "Skeiding van familielede weens historiese gebeure", 2008
Wiktora Kowalska, Maria se ouma, was die enigste lid van die familie wat vry gebly het. Soos baie ander Pole het sy die kamp in Potulice besoek om – hoewel dit deur doringdraad was – haar aangehoude dogter en kleinkinders te ontmoet en te ondersteun.

"Op besoekdae het baie mense na die konsentrasiekamp gekom om hul familielede en vriende te besoek. Aan albei kante van die doringdraad was dit oorvol, met mense wat raserig na bekende gesigte gesoek en na mekaar geroep het. Almal moes skree om gehoor te kon word. Met almal wat só gepraat het, om deur die doringdraad te skree, het dit soos 'n groot skreeuwedstryd gelyk. Dit was onbeskryflik."

Uit die lewensbeskrywing deur Maria Brylowska (née Imiłkowska), "Skeiding van familielede weens historiese gebeure", 2008
Die moeilikste tydperk vir die Imiłkowski-susters was toe hulle in die kamp in Smukała gebly het. Kinders het daar van honger, siekte en uitputting doodgegaan. Die susters het daarin geslaag om te oorleef en het na Potulice teruggekeer.
Dwangarbeid was een van die vorme van onderdrukking tydens die besetting en 'n manier om goedkoop arbeid vir die nywerheid en landbou te kry. Maria se pa is na 'n vliegtuigfabriek gestuur; sy en haar ma is na 'n Duitse landgoed gestuur. Zygmunt Imiłkowski (derde van links) tydens dwangarbeid in die vliegtuigfabriek Flugzeugwerk Gotenhafen, 1941-1945
Die lone van dwangarbeiders was veel slegter as dié van Duitse werkers. Die geld wat Zygmunt Imiłkowski vir sy werk in Flugzeugwerk Gotenhafen verdien het, is na 'n rekening by die kamp in Potulice gestuur, maar in werklikheid is geen salaris ooit aan hom uitbetaal nie. Zygmunt Imiłkowski se kennisgewing van die loonkategorie, 1944
Maria is na die Duitse landgoed Orłowo gestuur waar sy uitputtende werk moes verduur. Ná die koms van die Rooi Leër het haar ouma haar gevind en haar na Plewno teruggebring. Haar ma het reeds by hul huis gewag. Maria Imiłkowska se deregistrasiesertifikaat van die Orłowo-landgoed, 1945
Zygmunt Imiłkowski is in 1945 van Gdynia na die kamp in Leubingen verskuif waar hy lugaanvalle oorleef en die Amerikaanse bevryding in April 1945 meegemaak het. Hy het in Groß Gräfendorf gebly.
In Julie was Zygmunt Imiłkowski nog in Merseburg. Ondanks die gebrek aan nuus oor die lot van sy geliefdes het hy nooit hoop verloor nie en besluit om na die huis in Plewno terug te keer.

"Ek onthou dit was 'n warm somersdag toe my pa huis toe gekom het. Ons het hom nie herken nie. Hy het krom geloop en meer soos 'n bedelaar gelyk as na die man wat ons in Desember 1941 laas gesien het. Pa het in 'n grysgroen Amerikaanse weermagjas huis toe gekom, en hy het in 'n tas nog 'n Amerikaanse weermagjas gehad – dié een in 'n blougrys kleur. Dit was al die besittings wat hy van die Amerikaanse kamp saamgebring het. Mnr. Dondziło, 'n kleremaker wat ons voor die oorlog geken het, het uit dié weermagjasse jasse vir ons kinders gemaak."

Uit die lewensbeskrywing deur Maria Brylowska (née Imiłkowska), "Skeiding van familielede weens historiese gebeure", 2008
In 1946 het die gesin gegroei –Zdzisław is gebore, die enigste kind in die Imiłkowski-gesin wat die oorlogervaring vrygespring het. Die Imiłkowski-susters (van links) –Maria, Zofia en Halina, saam met hul broer, Zdzisław, 1949
Irena en Zygmunt Imiłkowski, 1950's

"Ek was 12 jaar oud en ek kon nie lees of skryf nie. (...) Nadat ons uit die kamp vrygelaat is, het ons geen hulp ontvang nie. (...) Die tyd ná die oorlog – tot byna 1956 – was vir ons moeilik en vol opofferinge. Maar ek was bly dat ek by my ouers en die ander kinders was, en dat ek skool toe kon gaan."

Uit die lewensbeskrywing deur Maria Brylowska (née Imiłkowska), "Skeiding van familielede weens historiese gebeure", 2008
Roetes van die geskeide Imiłkowski-gesin tydens die Tweede Wêreldoorlog
Die geskiedenis van die Młyńczak-gesin kan as 'n voorbeeld van Poolse ervaringe onder Sowjet-besetting dien. Die oorlog het Kazimierz en sy vrou, Zofia, vir ewig geskei. Die treine wat in byna teenoorgestelde rigtings gery het, het hulle diep in Rusland ingeneem, en die jaar 1945 het vir hulle geen hoop ingehou nie. Weens die kommunistiese owerheid se terreur ná die oorlog was dit vir 'n Poolse polisieman wat saam met die Anders-leër na Groot Brittanje gekom het, onmoontlik om herenig te word met sy vrou en seuns, Waldemar en Jerzy, wat in die Sowjetunie aangehou is.

Kazimierz Młyńczak het as 'n grenswag gedien en 'n opleidingskursus vir polisiebeamptes voltooi. Hy het ook die 17-jarige Zofia Blidsztejn ontmoet met wie hy in die St. Johannes-kerk in Vilnius getrou het. 'n Jaar later het Zofia die lewe aan 'n seun, Waldemar Kazimierz, geskenk, en in 1932 aan 'n tweede seun, Jerzy Henryk. In die middel 1930's is Kazimierz tot die rang van konstabel bevorder en het hy saam met sy gesin na Kurzeniec in die Vilnius Voivodeship verhuis. Hulle het daar gewoon toe die oorlog uitgebreek het.

Kazimierz Młyńczak in 'n polisie-uniform saam met sy vriend Jan Niedźwiedź, 1920's.
Zofia en Kazimierz Młyńczak – foto wat aan hul ouers in Krasocin gestuur is, 1928
Kazimierz Młyńczak saam met sy vrou en seun Waldemar tydens hul verblyf by hul ouers in Krasocin, 1930's.

Nadat die Rooi Leër Pole binnegekom het, is Kazimierz se eenheid beveel om hom na Litaue te onttrek waar polisiebeamptes geïnterneer is. Dit was die begin van 'n lang swerftog deur die Sowjetunie. Kazimierz is eers noord na Moermansk en later oor die Kola-skiereiland na Archangelsk geneem.

'n Brief van Kazimierz Młyńczak aan sy ouers uit die Kozielsk-kamp, 1941

Die Rooi Leër het Pole op 17 September 1939 uit die Ooste ingeval en daardeur Stalin se verpligtinge teenoor die Derde Ryk nagekom wat in die geheime bepalings van die Ribbentrop-Molotof-verdrag (Hitler-Stalin-verdrag) uiteengesit is. Die Sowjetunie se regering het verklaar dat die 13,5 miljoen Poolse burgers wat in die geannekseerde grondgebied gewoon het, verplig was om Sowjet-burgerskap te aanvaar. Van Februarie 1940 tot Junie 1941 is talle Poolse burgers na die Sowjet-binneland gedeporteer. Deportasies het die families van amptenare, burokrate, polisielede, prokureurs, dokters en ander verteenwoordigers van die Poolse intelligentsia geraak. Baie van hulle het nie die onmenslike toestande van die vervoer en moeilike lewe in Siberië of Kazachstan oorleef nie.

'n Brief van Zofia Młyńczak aan haar skoonouers wat uit Siberië geskryf is waarheen sy in April 1940 gedeporteer is. Zofia Młyńczak het saam met die agtjarige Jerzy en 12-jarige Waldemar in verskeie treine al hoe verder ooswaarts gereis: eers na Nowosibirsk en toe na gemeenskapsplase in Altai Krai.

Nadat Nazi-Duitsland die Sowjetunie in Junie 1941 ingeval het, is 'n ooreenkoms tussen die Poolse regering in ballingskap en Stalin gesluit. Op grond hiervan is duisende Poolse burgers uit tronke en arbeidskampe vrygelaat. Ná die ooreenkoms is die Poolse Weermag in die USSR onder bevel van generaal Władysław Anders gestig. Later in 1942 is 41 000 troepe van die Anders-leër en saam met hulle 74 000 burgerlikes in veiligheid in die Midde-Ooste gebring.

Toe amnestie in die herfs van 1941 vir Pole verklaar is, het Kazimierz hom vrywillig by generaal Anders se Poolse Leër aangesluit wat in Tatisjtsjef gevorm is. In Maart 1942 het hy die USSR as 'n soldaat verlaat. Kazimierz Młyńczak het in 'n eenheid van die militêre polisie gedien en saam met die 2e Poolse Korps deur Irak, Iran, Palestina en Egipte na Italië gereis.

Kazimierz Młyńczak in die Poolse Weermag in die Midde-Ooste, 1942

Die Poolse Weermag in die Midde-Ooste is op 12 September 1942 gevorm deur die leër van genl. Anders en die Onafhanklike Karpatiese Brigade, die helde van die verdediging van Tobroek in 1941, saam te smelt. Die troepe was aanvanklik in Irak gestasioneer en het hul gesondheid herwin. Vanweë die Geallieerdes se plan om Italië binne te val, is die meeste van die eenhede in 1943 na Palestina verskuif.

Kazimierz Młyńczak het in 'n eenheid van die militêre polisie gedien en saam met die 2e Poolse Korps deur Irak, Iran, Palestina en Egipte na Italië gereis.

Die grootste eenheid van die Poolse leër was die Tweede Poolse Korps (II Korpus Polski), wat hoofsaaklik uit eenhede van genl. Anders se leër bestaan het. Hulle het in 1944 aan die Italiaanse veldtog deelgeneem en in Mei 1944 roem by die Veldslag van Monte Cassino verwerf, en later Ancona en Bologne bevry.

Ruïnes van die dorpie Piedimonte ná die aanval (naby Monte Cassino), 1944
Genl. Anders, wat konflik tussen die Westerse Geallieerdes en die USSR verwag en gehoop het dat lande van Sowjet-besetting bevry sou word, het sy korps ná die oorlog opgebou. Begin 1946 het dit uit 100 000 soldate bestaan. Kazimierz Młyńczak (heel links) terwyl hy in Italië gedien het, 1946

Die Britse regering het in Februarie 1946 besluit om die Poolse Weermag te ontbind. Dit het in September ingestem om die Poolse Hervestigingskorps te word. Dit sou die demobiliseringsproses vergemaklik deur soldate voldoende op die burgerlike lewe voor te berei. Soldate is na voormalige weermagkampe, byvoorbeeld na Foxley, gestuur wat tot 1955 daarvoor gebruik is.

Kazimierz Młyńczak in die Foxley-kamp (Groot Brittanje), 1947. Sommige van die soldate het na Pole teruggekeer waar die kommunistiese owerheid hulle onderdruk het. Die meeste het egter die reg gekry om in die gebiede van die Britse besittings te gaan woon en het hul in Groot Brittanje, Kanada of Australië gevestig.
Kazimierz Młyńczak het eers in 1941 uitgevind dat sy vrou en seuns in April 1940 tydens die massadeportasie van gesinne in ballingskap na Siberië weggevoer is. Hy het in daardie stadium in die Poolse Weermag gedien en het sy gesin uit Rusland probeer kry. Paspoort wat Kazimierz in Bagdad vir sy vrou en seuns gekry het, 1943

Kazimierz Młyńczak het hom ná die oorlog in Groot Brittanje gevestig en vrugtelose pogings aangewend om sy vrou en seuns na hom te laat kom. Zofia is gedwing om 'n Sowjet-burger te word, wat dit vir haar onmoontlik gemaak het om die USSR te verlaat en na haar man te kom.

Intussen het die gesin per pos deur briewe en foto's in aanraking gebly. Kazimierz se kleindogter Olga, die oudste dogter van sy seun Waldemar, het hom in die 1990's in Engeland besoek.

Zofia Młyńczak saam met haar kleinkinders Olga en Wiktor, 1965
Waldemar Młyńczak en sy vrou, Wala, 1957
Kazimierz Młyńczak in Londen, 1987
Lewensbeskrywing "My biografie". Kazimierz Młyńczak het sy lewensverhaal in 1939 in die detensiekamp in Rokiszki, Litaue, begin neerskryf, maar dis by hom gesteel. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die skrywer daarin geslaag om dit in Engeland weer neer te skryf. In die vroeë 1990's het sy broer Witalis in Pole dit verkry.
Roetes van die geskeide Młyńczak-gesin
Die Szwajdler-gesin het tydens die oorlog lang skeiding en die dood van geliefdes ondervind. Franciszek is deur die Duitsers gevange geneem en het die hele oorlog in 'n Oflag deurgebring. Hul hoop op hereniging en 'n toekoms saam is vernietig deur die dood van Franciszek se vrou en seun in die Warskou-opstand. Die skeiding het langer as die oorlog geduur. Franciszek is eers in 1956 toegelaat om na Pole terug te keer en sy volwasse dogters te sien.

Stanisława en Franciszek Szwajdler het in Łódź gewoon waar hulle 'n gelukkige gesinslewe gelei het. Hy het 'n suksesvolle prokureur geword. Franciszek en Stanisława en hul groeiende huishouding – hul oudste seun, Włodek, hul dogters, Barbara en Teresa, ouma Emilia Lutomska en tante Adela, wat almal eenvoudig Dela genoem het – asook die firma se sekretaresse en regsleerling en talle ander familielede en gaste het elke dag saamgekom om aandete te eet.

Herinneringe deur Teresa Rybicka (née Szwajdler), 2009

Franciszek Szwajdler is in Augustus 1939 tydens 'n familievakansie na die leër opgeroep. Hy was reeds in uniform en het gekom om sy familie te groet – dit was die laaste keer dat hulle saam was.

Weens die nederlaag in die defensiewe oorlog van 1939 is sowat 420 000 soldate van die Poolse Leër na Duitse kampe vir oorlogsgevangenes geneem – offisiere na Oflags, gewone soldate en onderoffisiere na Stalags. Franciszek is geïnterneer en het die volgende ses jaar in kampe vir oorlogsgevangenes in Gross Born, Sandbostel en Blomberg deurgebring.

Die foto's toon Stanisława Szwajdler en haar kinders: Włodek, Barbara en Teresa, tydens die besettingstydperk in Piorunów, Warskou en Głowno, 1941-1944. Party van die foto's is in briewe aan die pa, Franciszek Szwajdler, gestuur wat in 'n Oflag aangehou is.

Om haar gesin tydens die besetting te onderhou, het Stanisława Szwajdler by kleinhandel betrokke geraak – wat streng verbode was. Sy het verskeie kere goed van die woonstel in Łódź, wat ná die uitbreek van die oorlog binne die grense van die Derde Ryk was, gebring en gevolglik groot gevaar geloop wanneer sy die grens onwettig oorgesteek het.

Die lewe in die Algemene Regering vir die Beleërde Poolse Gebiede is deur talle ordonnansies en verbotte bepaal – 'n aandklokreël is ingestel, mense is verbied om 'n radio te besit, om die plekke te besoek wat as "nur für Deutsche" gemerk is, en om kos te verkoop. Enige oortreding van die wet is kwaai gestraf – mense kon tronkstraf kry, na Duitsland of na konsentrasiekampe gedeporteer word, of ter dood veroordeel word.

Die lewe onder Duitse besetting. Smokkel en steek die grens onwettig oor

"Dit was nie vir haar maklik om vir ons groeiende groep kos te gee nie! Daar was 'n stalletjie met sigarette waar sy 'n paar sigarette verkoop het waarvoor sy vergoeding gekry het, asook baie sogenaamde tuisgemaakte sigarette wat in ons huis gemaak is. My klein handjies was die beste geskik vir die werk, want ek was die vinnigste daarmee om die papiertjies met tabak te vul. (...) Mammie en Basia het blomornamente van organdie (borsspelde, haarknippies) gemaak en saam het ons tousakke geweef. Włodek, die 'nutsman', het horlosies en elektriese toerusting herstel en skoene van tou gemaak."

Uit die lewensbeskrywing van Teresa Rybicka (née Szwajdler) "My mammie", 2007
Teresa en Barbara Szwajdler werk aan 'n handsak wat verkoop kon word, 1941-1943
Deur die oorlog heen is baie briewe vol liefde, sorg en woorde van vertroosting tussen die Oflag en Warskou gestuur. Franciszek het sy vrou, Stanisława, en hul kinders van ver ondersteun; intussen het sy gesin vir hom opgewekte briewe gestuur waarin nie 'n enkele woord oor die swaarkry van die lewe in die besette Warskou gerep is nie.
Briewe van 'n oorlogsgevangene aan sy gesin was moontlik op spesiale briefvorms of op poskaarte wat net met potlood geskryf kon word en deur die sensors nagegaan is.

Tragiese dood van geliefdes.

Barbara en Teresa het in 1944 hul vakansie op die platteland in Głowno by vriende van haar ouers deurgebring. Hulle het nooit na Warskou teruggekeer nie. Die nuus het hulle bereik van die dood van hul ma, broer en Dela, wat in 'n openbare teregstelling in Warskou geskiet is.

Die einde van die oorlog het nie die einde van die gesin se skeiding beteken nie. Franciszek Szwajdler kon nie na Pole terugkeer nie uit vrees vir die gevolge vanweë sy politieke bedrywighede voor die oorlog in die geledere van die konserwatiewe Nasionale Party, wat die nuwe kommunistiese owerheid in Pole as 'n vyandige ideologie beskou het (soos alle ander politieke menings beskou is).

Franciszek Szwajdler in die uniform van die Poolse Weermag in die Weste.

Franciszek het ná die oorlog in Duitsland gebly. Hy het later na New York gegaan, maar Pole eers vinnig besoek om sy dogters te sien. Eers in 1956 kon hy na Pole, na reeds volwasse dogters, terugkeer.

Franciszek het deur die jare sy liefde en sorg vir sy dogters bly betoon deur aan hulle briewe vol liefde, aanmoediging en verlange te stuur, nes hy tydens die oorlog gedoen het.
Roetes van die geskeide Szwajdler-familie tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog
Hier is die geskiedenis van twee mense wat op verskillende roetes na Engeland gereis het waar hulle ontmoet, getrou en kinders grootgemaak het. Tydens die oorlog het hul weë nooit gekruis nie. Hulle het op verskillende plekke gewoon: die een onder besetting deur die Duitsers, die ander onder Sowjet-besetting.
Julian Stryjak is in Ochędzyn, 'n dorp in die omgewing van Łódź, gebore en getoë. Nadat hy sy hoërskoolopleiding voltooi het, het hy na Lviv verhuis waar hy as 'n onderwyser gewerk het.
In 1936 het hy met Irena Ciszewska getrou wat hy in die stad ontmoet het en wat ook 'n onderwyser was. Twee jaar later het hy sielkunde begin studeer. Hy het sy eerste studiejaar voltooi teen die tyd toe die oorlog uitgebreek het.
Einde Augustus 1939 is Julian Stryjak na die leër opgeroep. Op 1 September het hy sy vrou, wat hom kom groet het toe sy eenheid na die oorlog vertrek het, vir die laaste keer gesien.

Op 1 September 1939 het Duitsland Pole uit die noorde, weste en suidweste aangeval. Die Poolse Leër het vasberade weerstand gebied, maar kon nie die talryker en beter gewapende Duitse magte keer nie.

Julian was in bevel van 'n swaarmasjiengeweerpeloton in die 19e infanterieregiment, wat in gevegte naby Płock betrokke was. Hy is in 'n artilleriebombardement gewond en hospitaal toe gestuur.
Julian Stryjak in die Duitse kamp vir oorlogsgevangenes Oflag XI B in Braunschweig, 1939 Ná die nederlaag in die defensiewe oorlog van 1939 is 420 000 soldate van die Poolse Leër van die Republiek van Pole na Duitse kampe vir oorlogsgevangenes geneem – offisiere na Oflags en gewone soldate en onderoffisiere na Stalags.

Julian Stryjak het ses jaar in Duitse kampe vir oorlogsgevangenes deurgebring. Hy het in aanhouding uitgevind dat sy vrou na die USSR gedeporteer is. Hy het aangehou om met haar kontak te probeer maak. Al kon hy nie juis daarin slaag om regstreeks kontak te maak nie, het hy danksy korrespondensie met 'n neef van Różniatowo (besette Pole) nuus oor sy vrou gekry.

Poskaart van Irena Stryjak, uit ballingskap in die USSR aan haar man se neef in besette Pole gestuur, 1941
Julian Stryjak se brief van Tangerhütte Stalag-veldhospitaal na sy familie in Pole, 1944
In 1942 het die briewe van Irena Stryjak opgedroog. Sy is in 1942 in die verafgeleë Goezar dood, maar Julian het eers ná die oorlog van haar dood verneem. Tot in daardie stadium het hy probeer uitvind waar in die Midde-Ooste sy vrou heen geneem is.
Duisende mense het ná die oorlog geen inligting oor hul geliefdes gehad nie. Burgerlike en militêre organisasies het na familielede help soek en hulle help herenig. Die Poolse Rooi Kruis was op die voorpunt van die lewering van dié soort hulp aan Poolse burgers.

Julian het in 1945 daarin geslaag om tydens die ontruiming van die kamp vir oorlogsgevangenes in Görlitz te ontsnap. Hy het deur Boheme, Duitsland, na Frankryk gereis waar hy hom by die Poolse Leër aangesluit het.

Julian Stryjak (tweede van regs) tydens 'n besoek aan Lourdes, 1946
Julian Stryjak by die Poolse weermagkamp in La Courtine in Frankryk, 1946
Diensverslagboek waarin Julian Stryjak se militêre diens aangeteken is, 1946
Voltooiing van militêre diens ten opsigte van die ontbinding van die Poolse Hervestigingskorps, 1949
Julian Stryjak, Foxley-kamp in Engeland, 1949. Hy het ná die demobilisering as 'n horlosiemaker begin werk en hom in Manchester gevestig waar hy sy nuwe gesin begin het...
Hilaria Borowska is in Białystok gebore en getoë. Sy het ná haar hoërskoolopleiding as 'n klerk begin werk. Sy was 26 toe die oorlog uitgebreek het.

Hilaria Borowska, haar ma en haar broer, Tadeusz, is in 1941 met verskillende roetes na Siberië gedeporteer. Net haar pa, Wincenty, en haar jonger suster, wat na hom omgesien het, het in Białystok agtergebly.

Hilaria het Pahlevi (Iran) in 1942 bereik en haar by generaal Anders se Poolse Leër aangesluit waar sy as 'n kwartiermeester gewerk het.
Hilaria Borowska (derde in die linkerkolom) in die Vrouehulpdiens van die Anders-leër, 1943-1944

Die Vrouehulpdiens, wat saam met Anders se Poolse Weermag in die USSR geskep is, was op dieselfde organisatoriese beginsels en hiërargie as die leër gegrond. Dit het uit sowat vyfduisend vrywilligers bestaan wat diens ten opsigte van noodhulp, kultuur, propaganda, vervoer, administrasie, wagdiens en kommunikasie verrig het. Dié mag is in 1946 ontbind.

Hilaria Borowska het saam met die Anders-leër na Teheran gegaan waar sy haar broer, Tadeusz, raakgeloop het wat sy by sy gevangeneming in 1941 laas gesien het. Tadeusz het in Februarie 1944 in Karatsji met Janina Marszewska getrou en hulle het saam na kampe in Afrika gegaan – eers in Dar es Salaam en later in Kigoma. Tadeusz is in Mei 1945 weens 'n hartprobleem dood en is deur Barbara, 'n dogter van ses maande oud, oorleef.

Hilaria het in die herfs van 1947 op die "Empress of Australia" na Engeland gevaar.

Hilaria Borowska, tweede van links in die voorste ry, kamp van die Poolse Hervestigingskorps in Witley, 1949
Hilaria Borowska op Trafalgar Square, 1949
Hilaria Borowska en Julian Stryjak het deur kennisse ontmoet, getrou en hul in Manchester gevestig. Op hul troudag in 1950.
Hilaria en Julian Stryjak saam met hul kinders, Andrzej en Barbara, 1957

Die Stryjaks het in 1971 vir die eerste keer sedert die oorlog na Pole teruggegaan – ná 'n afwesigheid van dertig jaar stap Hilaria oor die drumpel van haar familiehuis.

Barbara, dogter van Hilaria en Julian Stryjak, vertel van die lot van haar ouers tydens die Tweede Wêreldoorlog
Die roete wat Hilaria Stryjak (née Borowska) tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Midde-Ooste gevolg het en wat in 'n brief aan haar dogter gestuur is wat na die Midde-Ooste sou reis om in haar ma se voetspore te volg.

"Ek stuur 'n kaart van my reis daar sodat jy 'n idee daarvan kan kry. Begin April het ons per trein (meer as honderd tonnels) uit Teheran na Ahvaz gereis; van Ahvaz per motor na Basra; van Basra in 'n baie klein trein (met klein waens). Die khamsin het heelpad gewaai; mens kon verder as 'n armlengte weg niks anders as die warrelende en loeiende rooi woestynstof sien nie. Van Bagdad het dit vier dae geduur om Jerusalem per motor te bereik – niks behalwe woestyn en swart rotse nie, nie 'n enkele grassprietjie nie. Eers nadat ons die grens met Palestina oorgesteek het, het plase sigbaar geword. In April was dit reeds warm daar; ek het 'n ligte denimuniform gedra – 'n romp, 'n popelienhemp en kort moue."

Uit 'n brief van Hilaria Stryjak aan haar dogter, Barbara, 29 April 1975
Barbara Stryjak saam met haar ouers by die Berlynse Muur, 1987
Roetes van die geskeide Stryjak-familie tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog
Erkenning: storie

The Polish History Museum in Warsaw expresses its sincere appreciation for their kind and helpful involvement in the project to — Maria Brylowska, Teresa Rybicka, Barbara Stryjak
Curation — Ewa Wójcicka, Polish History Museum
Proofreading — Barbara Stryjak, Tomasz Wiścicki
IT support — Artur Szymański
Exhibit's origin  — the presentation is part of the “Families Separated by History” project run by the Polish History Museum, rodziny.muzhp.pl

Erkennings: Alle media
Die storie hier is in sommige gevalle moontlik deur 'n onafhanklike derde party geskep en verteenwoordig nie noodwendig die sieninge van die instellings hieronder wat die inhoud verskaf het nie.
Vertaal met Google
Tuis
Verken
Naby
Profiel