Die kroning van koningin Elizabeth II 

Die kroning van koningin Elizabeth II was 'n dag van asemrowende praal en ritueel wat reg rondom die wêreld gevier is en was die begin van 'n lang en historiese heerskappy.

Kinders vier die kroning
Koning George VI

Die Koningin se troonbestyging

Koning George VI het die nag van 6 Februarie 1952 in Sandringham House in sy slaap gesterf. Hy was net 56 jaar oud. 'n Lang siekbed en die spanning van leierskap gedurende die donker dae van die Tweede Wêreldoorlog het hul tol op die baie geliefde monarg geëis.

Prinses Elizabeth, die oudste van die Koning se twee dogters, was in Kenia aan die begin van 'n koninklike toer van die Statebondslande wat sy as gevolg van haar pa se swak gesondheid namens hom sou onderneem.

Haar man, prins Philip, het die nuus van haar pa se dood aan haar meegedeel.

Op 25-jarige ouderdom moes Elizabeth nie net die droefheid van die verlies van haar pa hanteer nie, maar sy is ook gekonfronteer deur die ontsagwekkende vooruitsig dat sy nou die Koningin van die Verenigde Koninkryk en Hoof van die Statebond was.

Alhoewel Elizabeth die troon bestyg het, sou daar nog 16 maande verloop voor haar kroning. 

Portret van die Hertogin van York (toekomstige Koninginmoeder) met haar pasgebore dogter prinses Elizabeth

Elizabeth se jeug

Elizabeth is op 21 April 1926 in Londen gebore. Vier jaar later het sy 'n klein sussie, prinses Margaret, bygekry. Hulle vader, die Hertog van York, was koning George V se tweede seun, en het dus nie verwag om koning te word nie.

In 1936, toe hul pa se oudste broer, koning Edward VIII, geabdikeer het met die voorneme om met die Amerikaanse geskeide vrou Wallis Simpson te trou - 'n handeling wat gesien is as onversoenbaar met sy rol as hoof van die Anglikaanse Kerk - het dit alles egter verander. Elizabeth se vader het koning George VI geword, en sy die troonopvolger.

Reeds toe sy nog maar 'n kind was, is daar al melding gemaak van haar sterk karakter en verantwoordelike houding. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het sy radio-uitsendings gedoen om ander kinders te help opbeur, liefdadigheidsorganisasies ondersteun en op 18 by die Vrouehulplandsdiens aangesluit en opleiding as 'n drywer en werktuigkundige ondergaan.

In 1947 het die prinses haar eerste koninklike toer saam met haar ouers na Suid-Afrika meegemaak. 

Prinses Elizabeth saam met haar moeder en suster
Prinses Elizabeth: Time, 1929
'n Gesinsuitstappie, 1936

"Ek verklaar voor u almal dat my hele lewe, of dit nou kort of lank sal wees, aan u diens en aan die diens van ons wonderlike imperiale familie, waaraan ons almal behoort, toegewy sal wees."

Prinses Elizabeth, 1947

Prins Philip

Prinses Elizabeth het prins Philip die eerste keer in 1934 ontmoet, toe sy net agt jaar oud was. Philip was 'n Griekse prins wie se gesin in ballingskap gedwing is toe hy nog 'n baba was.

Ná nog 'n ontmoeting in 1939, toe prinses Elizabeth net 13 was, het sy verklaar dat sy verlief was op Philip, teen daardie tyd 'n offisierskadet in die Koninklike Vloot, en die twee het begin om gereeld vir mekaar te skryf.

Prins Philip
Die koninklike egpaar

'n Koninklike troue

Prins Philip het die Tweede Wêreldoorlog in aktiewe diens in die Middellandse See deurgebring, maar ná die oorlog kon die Prins en Prinses hul hofmakery voortsit. Hul verlowing is in 1947 aangekondig en hulle is op 20 November in die Westminster-abdy getroud. Op dieselfde dag is prins Philip as die Hertog van Edinburg tot die adelstand verhef. 

Bittersoet: Rye vir rantsoene 

Brittanje in 1953

Brittanje het in 1953 nog in die skadu van die Tweede Wêreldoorlog geleef. Voedselrantsoenering was nog van krag vir suiker en vleis, en was ten diepste ongewild. Bomtonele het nog baie stede ontsier.

Brittanje se posisie as een van die wêreld se groot magte was onder bedreiging, en die Britse Ryk was besig om agteruit te gaan.

Die vyftigerjare was egter die beginpunt van herstel van die era van na-oorlogse strengheid. Lone was besig om hoër te raak, rantsoenering was aan die verdwyn en die regering het 'n grootskaalse huisbouprogram van stapel gestuur.  

Dit was asof die kroning van 'n nuwe koningin – jonk, mooi en pligsgetrou – 'n blinker toekoms ingelui het.

"Die kroning was soos 'n feniks-tyd. Alles is uit die as verhef ... en het beter en beter geraak.

Prinses Margaret
Die prosessie deur die strate van Londen

Die prosessie

Voorbereidings vir die kroning van koningin Elizabeth het die oomblik toe sy in Februarie 1952 die troon bestyg het, begin. Sy is egter eers 16 maande later, op 2 Junie 1953, as koningin gekroon.

Die lank verwagte dag het begin met 'n prosessie van Buckingham-paleis af na die Westminster-abdy, die plek waar Engelse en Britse kronings sedert dié van Harold II in 1066 plaasgevind het. Duisende gretige toeskouers het seker gemaak dat hulle die beste plekke langs die roete kry deur ten spyte van swaar reën oornag te kampeer.

Op die dag self was daar 'n geraamde 3 miljoen mense wat langs die strate saamgedrom het om die nuwe Koningin toe te juig. Deur die loop van die dag was daar sporadiese reënbuie, maar vir die prosessie self het die reën weggebly.

Dit is gelei deur die massa-orkeste van die Brigade van Wagte, gevolg deur kontingente van die gewapende magte van die statebondslande. Staatshoofde en koninklikes van ander lande het per koets beweeg. Hulle is deur die Koningin self in die Goue Staatskoets gevolg. 

Soldate marsjeer tydens die prosessie

Hillary en Everest

Op 29 Mei 1953 het die Nieu-Seelandse bergklimmer Edmund Hillary en die Nepalese sjerpa Tenzing Norgay die eerste mense geword om die kruin van berg Everest, die wêreld se hoogste berg, te bereik. Omdat hulle nie baie suurstof oorgehad het nie, kon hulle slegs 15 minute by die kruin, wat op 'n hoogte van 8 848 m lê, deurbring.

Die nuus van hulle buitengewone prestasie het Brittanje die oggend van die kroning bereik. Dit is onmiddellik as 'n kroningsgeskenk vir die jong koningin begroet, en soos wat die nuus deur die wemelende strate van Londen versprei het, het dit verdere rede vir 'n gejubel verskaf.

Hillary en die ekspedisieleier, kolonel John Hunt, is later deur die nuwe koningin tot ridders geslaan, en Norgay het die George-medalje ontvang.

Edmund Hillary en Tenzing Norgay 

Koninklike koetse

Die Britse monargie het meer as 100 toe en oop koetse. Die voortreflikste een is die Goue Staatskoets wat deur Koningin Elizabeth vir haar kroning gebruik is. Die koets is in 1762 in Londen gebou, word deur 8 perde getrek en weeg 4 ton. Dit is swaar verguld met bladgoud (vandaar die naam) en met geverfde panele versier.

Die koninklike koets wat onlangs die meeste gesien is, is die 1902-Staatslandauer, wat vir sowel die troue van William en Kate as vir die Koningin se Diamantjubileum in 2012 gebruik is. 

Gravure van Westminster-abdy

Die kroning

Koningin Elizabeth se aankoms by Westminster-abdy, waar 8 000 gaste gewag het, was die begin van die godsdienstige plegtigheid wat met haar kroning sou eindig.

Sy was geklee in wit sy wat geborduur is met die embleme van die Statebondslande, met die fluweel-Staatskleed, meer as vyf meter lank, bo-oor dit, en met sewe hofdames wat die sleep ondersteun het.

Die Koningin het voor die preekstoel die Kroningseed afgelê en gesweer om geregtigheid en die wette van haar koninkryk te handhaaf en om die Anglikaanse geloof te verdedig. Toe, in die oudste en heiligste oomblik van die seremonie, is die Koningin deur die Aartsbiskop van Canterbury met heilige olie gesalf terwyl sy in die Kroningstoel gesit het. Toe sy die koninklike septers, ryksappel en kleed, en uiteindelik die kroon self ontvang het, het die gemeente gereageer deur "God save the Queen" te roep.

"Dít wat ek hier beloof het, sal ek uitvoer en onderhou. So help my God."

Koningin Elizabeth II, 1953

Ná die seremonie

Ná die kroningseremonie het die Koningin in die Goue Staatskoets na Buckingham-paleis teruggery. Gou het 'n groot skare mense by die tralies van die paleis saamgedrom en begin roep: "Ons wil die Koningin hê!"

Die Koningin, vergesel deur die koninklike familie, het telkens betyds die eerste van verskeie balkonverskynings daardie dag gemaak. Sy is deur enorme toejuiging van die skare begroet. Sy het toe weer na binne gegaan vir die eerste van twee kroningsbankette, wat deur familielede, buitelandse koninklikes en besoekende hoogwaardigheidsbekleërs bygewoon is.

By die tweede van hierdie bankette is "Kroningshoender" vir die eerste keer bedien – 'n dis van koue hoender in 'n romerige kerriesous wat vir die geleentheid geskep is.

Om 17:00 (nadat dit verskeie kere uitgestel is weens die swak weer) was daar 'n oorvlug oor Buckingham-paleis deur meer as 150 vliegtuie. Die Koningin se laaste balkonverskyning was om middernag. 

"Kom ons hoop dat ons getuies van die begin van 'n nuwe Elizabethaanse era is wat geensins minder gevierd as die eerste sal wees nie."

Clement Attlee, 1953

Televisie

Die kroning van koningin Elizabeth II het 'n belangrike oomblik in die geskiedenis van televisie geword. Die seremonie self is nog nooit vantevore verfilm nie, en al het die Premier, Winston Churchill, nie gedink dat dit gedoen behoort te word nie, was die Koningin oortuig dat dit wel verfilm moes word. Minder as 'n derde van Britse huishoudings het in 1952 'n televisiestel gehad, maar die aanvraag daarna om die kroning te kyk was geweldig. In die tyd voor die kroning het die BBC koorsagtig gewerk om hulle dekking uit te brei, en verkope van TV-stelle het die hoogte ingeskiet.

Op die dag self het mense in sitkamers, bioskope en konsertsale ingedruk om die elf ure van regstreekse dekking te kyk. Die regstreekse uitsending was in swart en wit, alhoewel dit in kleur verfilm is. Die TV-gehoor in die VK is op 20 miljoen (40% van die bevolking) geraam. Dit word onthou as die oomblik toe televisie hoofstroomvermaak in die VK geword het. 

Die BBC se TV-senderbeheerkamer
Die kroning op televisie

Om lank oor ons te heers

Die kroning van koningin Elizabeth II was die begin van 'n merkwaardige heerskappy wat tot op hede die tweede langste in Britse geskiedenis is.

In daardie tyd het sy tallose toere van buitelandse en Statebondstate onderneem, en die mees berese staatshoof in die geskiedenis geword.

Onder haar heerskappy het merkwaardige en dramatiese veranderinge in die Verenigde Koninkryk en in die wêreld daarbuite plaasgevind, waarvan nie die minste nie dié van die geleidelike ontbinding van Britse imperiale mag.

Die koningsgesin self het sy eie traumas deurgemaak, waaronder die verbrokkeling van drie van haar vier kinders se huwelike, en die tragiese en ontydige dood van Diana, Prinses van Wallis, in 1997.

Nogtans het die Koningin, met prins Philip aan haar sy, standvastig, waardig en dienswillig gebly. Sy is sowel tuis as in die buiteland steeds geweldig gewild, soos gedemonstreer deur die reuse- openbare entoesiasme wat haar Diamantjubileum in 2012 begroet het. 

Erkenning: storie

Toby Groom, Documentary Producer & Historian 
Mike Lewis, CEO & Founder, Historvius.com

Erkennings: Alle media
Die storie hier is in sommige gevalle moontlik deur 'n onafhanklike derde party geskep en verteenwoordig nie noodwendig die sieninge van die instellings hieronder wat die inhoud verskaf het nie.
Vertaal met Google
Tuis
Verken
Naby
Profiel