1914 – 2000

Jan Karski. Humanity's Hero®

Polish History Museum

"Ek was 'n onbenullige klein mannetjie. My sending was egter belangrik."
Jan Karski in sy onderhoud met Claude Lanzmann, 1978

In Julie 1942 het die Duitse Nazi's begin met die massadeportasies van Jode uit die besette Warskou na die Treblinka-doodskamp. Jan Karski, 'n jong diplomaat en later koerier vir die Poolse versetsbeweging, het 'n sending van verstommende belang aanvaar. Hy het ingewillig om aan die Vrye Wêreld 'n ooggetuie-verslag oor die uitwissing van Poolse Jode oor te dra. Hy het selfs twee keer die Warskou-ghetto en later die Izbica-transitokamp in Lublin besoek.

Ten spyte van oorweldigende struikelblokke, en met behulp van 'n menige vals identiteite, het Karski teen die einde van November 1942 in Londen aangekom. Daar het hy gedetailleerde geskrewe verslae opgestel vir die Poolse ballingskapregering in Londen, en ook Anthony Eden, die Britse minister van buitelandse sake, daaroor ingelig. Hierna is hy na Washington gestuur, waar hy 'n uur lank met President Franklin D. Roosevelt in die Ovaalkantoor beraadslaag het.

Teen die tyd dat Karski alarm gemaak het, was die meeste Poolse Jode reeds dood. Daar was egter genoeg tyd om oorblywende oorlewendes te red.

Karski, wat 86 jaar oud geword het, het die Vrye Wêreld se gebrek aan daadwerklike optrede as die mensdom se "tweede erfsonde" beskou. Sy destydse getuienis hieroor bly een van die mees aangrypende verklarings teen oorlog en pleidooie vir optrede wanneer mense gekonfronteer word met diskriminasie, degradasie, ongeregtigheid en brutaliteit – voorlopers tot politieke moord en volksmoord.

Die multikulturele nywerheidstad Łódź was Jan Karski se geboorteplek (sy geboortevan was Kozielewski).

Pole se vooruitstrewende tekstielhoofstad was 'n "beloofde land" vir mense van diverse nasionaliteite en gelowe. As kind het Karski lesse van verdraagsaamheid en onderlinge samewerking baie goed geleer.

Die Kozielewski-gesin in 'n Łódź-ateljee in 1918 gefotografeer – ook die jaar waarin Pole sy vryheid ná 130 jaar van verdeling en regering deur vreemdes verkry het.
Jan Karski met sy ouer broer, Edmund, in 1922.

Karski se Rooms-Katolieke gesin het 'n deelwoning met Joodse gesinne gedeel. Karski se diep gelowige moeder het hom dikwels gevra om 'n wakende oog oor die jonger Joodse kinders te hou.  

Karski se oudste broer, Marian Kozielewski, het by maarskalk Piłsudski se legioene aangesluit en was deel van Piłsudski se suksesvolle stryd vir nasionale onafhanklikheid gedurende 1918. In die foto is Karski se broers en suster: v.l.n.r. Cyprian, Laura en Marian.

Karski se herkoms was nederig. Sy pa, Stefan Kozielewski, was 'n leerwerker en vakman wat oorlede is toe sy seun net 6 jaar oud was. Dit was Marian, Karski se oudste broer, wat 'n vaderlike rol vir die jong Karski vervul het. Beide Karski se moeder Walentyna and sy broer Marian het 'n lewensidealisme by hom tuisgebring wat algemeen was in daardie generasie, waar God, eer en vaderland beskou is as die drie hoekstene waarop die Tweede Republiek gegrond was.  

Familie-erfenis, inherente talent en die goeie posisie wat sy broer Marian in die tussenoorlogse jare in Pole beklee het, het Karski se jeugjare baie beïnvloed. Hy het sy universiteitsgraad met vlieënde vaandels verwerf, en sy droom om eendag diplomaat te word was feitlik tasbaar.  
Karski het in 1935 sy meestersgraad in regs- en diplomatieke studies aan die Jan Kazimierz Universiteit in Lwów behaal.

Jare later het Karski erken dat sy loopbaanambisie een van die redes was waarom hy hom nie geskaar het by die Joodse studente wat by sy universiteit verdruk is nie. Karski was bang dat sy gesig miskien in die proses geskend kon word.

Anti-Joodse sentiment het hoogty gevier onder nasionaliste dwarsoor Europa, en ook in Pole, en verskeie maniere van vervolging is teen die Joodse gemeenskappe gebruik.

Jan Karski en sy meisie op Oujaarsnag 1938-39, Warskou.

In 1936 het Karski vir die ministerie van buitelandse sake begin werk. Sy pos het vir hom deure oopgemaak in Warskou se hoë sosiale kringe. Daarna is hy na die buiteland gestuur, as 'n junior in diplomatieke poste in Genève and Londen.

Gedurende die nag van 23 Augustus 1939 het Karski 'n geheime oproepsbevel ontvang wat die einde van sy jongmansdrome beteken het.  

Karski onthou die atmosfeer ná mobilisasie en die begin van die oorlog in 'n onderhoud met E. Thomas Wood.  
Op 1 September 1939 het die oorlog uitgebreek. Om 05:00 het Duitse vliegtuie begin om die barakke by Oświęcim, waar Karski se eenheid gestasioneer was, te bombardeer. 'n Paar uur later het die tweede luitenant en sy bataljon ooswaarts begin terugval.  
'n Duitse soldaat merk 'n grenspos op die Duitsland-Sowjet-skeidslyn.

Die geheime Duitsland-Sowjet-nieaanvalsverdrag is op 23 Augustus 1939 in Moskou onderteken, waarmee Oos-Europa in Duitse en Sowjet-invloedsfere verdeel is. 'n Geheime protokol het die reëls oor die verdeling van gebiede soos Pole, Litoue, Letland, Estland, Finland en Roemenië uiteengesit. Hierdie verdrag het ook die weg gebaan vir die Sowjet-inval van Pole vanuit die ooste, terwyl die land vergeefs geveg het teen Hitler se magte.

Die Molotov-Ribbentrop-verdrag (die Nazi-Sowjet-verdrag) het die weg gebaan vir die Sowjet-inval van Pole vanuit die ooste, terwyl die land vergeefs geveg het teen Hitler se magte.

"[Ons was oorweldig deur gevoelens van] skaamte en vernedering. Dit het alles so vinnig gebeur. Die hele nasie is onkant gevang."

Jan Karski het in 1995 aan joernalis Maciej Wierzyński vertel.
Karski onthou die ineenstorting van sy vertroue in Pole se militêre mag in sy onderhoud met E. Thomas Wood.  
As 'n krygsgevangene van die Sowjetse Rooi Leer het Karski amper nie die bloedbad van die Katyń-woud vrygespring nie.

Op 17 September 1939 het die Sowjet-weermag Pole binnegeval. Karski en sy bataljon was op pad na Tarnopol in die Oekraïne toe hulle hulle teen die Rooi Leer vasgeloop het. Aanvanklik het die Sowjet-magte hul samewerking beloof, maar het op die ou einde die Pole gevange geneem en hulle weggestuur na 'n kamp in Kozielsk, Rusland.

Die Poolse offisiere is selfs swakker behandel as die gewone soldate. Toe die Duitsers en die Russe aankondig dat daar 'n uitruil van gevangenes sou plaasvind, was die reëls baie streng – slegs voetsoldate kon deelneem. Sonder om te skroom het Karski sy offisiersuniform vir dié van 'n voetsoldaat verruil en gesê dat hy 'n fabriekwerker in Łódź was. Dit het sy lewe gered. Die Poolse offisiere wat agtergelaat is, is in 'n massamoord in die Katyń-woud naby Smolensk (Katyń, Rusland) gedood – in een van die mees berugte misdade van die oorlog.

Karski het Duitse gevangenskap vrygespring deur van 'n bewegende trein te spring. Hy het Warskou uiteindelik te voet bereik. Soos die meeste skrander, patriotiese Pole het Karski onmiddellik by die Poolse versetsbeweging aangesluit. Dit was die grootste, belangrikste versetsbeweging gedurende die oorlog in Europa.

In sy verslae aan die Poolse ballingskapregering het Karski nie net oor die politiek uitgewei nie, maar ook oor die gemoed van die gewone burgers teenoor die besettingsmagte – die veggees van die Pole.

Karski het teen die einde van 1939 vir die Poolse versetsbeweging begin werk. Sy intelligente benadering en puik geheue het gehelp om hom een van 'n aantal verkose geheime gesante te maak tussen die Poolse ballingskapregering en die versetsbeweging. Met sy eerste sending, in 1940, het hy verslae gelewer aan die Poolse regering, destyds in Angers, Frankryk, oor die toestand in die besette Pole. Hy het teruggekeer met die regering se organisatoriese riglyne vir die leiers van die versetsbeweging. Karski het die uiters kritieke inligting gememoriseer en met sy terugkoms gedikteer.

Deur die gebruik van menige vals identiteite, unieke metodes van vervoer en vindingrykheid, maar ook deur voortdurend sy eie lewe in gevaar te stel, het Karski vier sendings as 'n koerier vir die Poolse versetsbeweging voltooi: sendings 1 en 2, 1940 – geel lyn Warskou-Angers-Warskou; sending 3, 1940 – blou lyn Warskou-Angers, gestaak in Demjata, Slowakye; sending 4, 1942 – rooi lyn Warskou-Londen via Brussel, Parys, Perpignan, Barcelona, Madrid, Gibraltar.
Op sy eerste sending na die Poolse ballingskapregering in Angers, Frankryk, in 1940, is Karski gevra om verslag te doen oor die algemene toestand in Pole onder die besetting. Dit was ook die eerste keer dat hy die Poolse owerhede ingelig het oor die benarde situasie waarin die Poolse Jode hulle bevind het.
Amptelike Nazi-aankondigings, wat bedoel was om Poolse burgers te terroriseer, het ongenadiglike beperkings op hul daaglikse lewe geplaas.

Karski het verslag gedoen aan die Poolse ballingskapregering oor die details van daaglikse bestaan. Onder Duits-Nazi-besetting het die Pole wat deel van die versetsbeweging was nie net die gevare van gevang word en dood gemaak word trotseer nie, maar hulle moes ook voortdurend op hul hoede wees in hul daaglikse omgang. Gedwonge rantsoenering van alle voedsel het ook hongerlyding beteken, hoewel die sluikhandel wel goedere kon lewer aan diegene wat nog geld gehad het.

Die besetters het nie net probeer om die moraal van die Poolse burgers te ondermyn nie, maar ook om die Poolse nasie kultureel en ekonomies te verswak. Alle instellings van hoër onderwys is gesluit, onderrig in die Poolse taal is verbied, en oortredings in dié opsig is met die dood strafbaar gemaak. Konfiskasie van eiendom was 'n daaglikse gesig. Lewe onder die tirannie van besetting het dus beteken dat mense onder die nimmereindigende vrees van sinnelose arrestasies en summiere teregstellings gebuk gegaan het. As hulle die Nazi's se nuwe reëls oortree het, was vergeldings en selfs die dood hul voorland.

Die Poolse ballingskapregering in Angers, Frankryk het die konsepontwerp van die Poolse versetsbeweging aan Jan Karski se geheue toevertrou, wat die verdeling van allerlei verantwoordelikhede en kommunikasie ingesluit het. As koerier het Karski die volledige konsep oorgedra aan die politieke leiers in die besette Pole. Op die grondslag van hierdie leiding het die eerste, belangrikste versetsbeweging in oorlogsgeteisterde Europa gestalte aangeneem.

Die struktuur van die Poolse versetsregering en sy verhouding met die ballingskapregering, 1942.

In Junie 1940 is Karski weer te voet op reis, oor die Tatra-gebergtes, op 'n derde sending na Angers, met inligting van belangrike versetsleiers. Die weer op pad was baie erg, en daarom het hy besluit om te oornag in die Slowaakse dorpie Demjata, waar 'n omgekoopte gasheer hom aan die Gestapo uitgelewer het. Onder arres en marteling het Karski probeer om selfmoord te pleeg, om sodoende nie sy geheime te verklap nie. Maar hy is betyds gered en vervoer na 'n hospitaal in Nowy Sącz, Pole. Daar het Jan Słowikowski, 'n jong geneesheer wat ook by die verset betrokke was, met behulp van 'n groep medekamerade 'n uiters gewaagde en suksesvolle ontsnapping georganiseer.

Huldigingsplaat ter ere van dié wat gesneuwel het toe hulle Karski gehelp het om uit die hospitaal in Nowy Sącz te ontsnap.

Die ontmoediging van gewone Poolse burgers, van wie 'n groot meerderheid (70%) op die platteland gewoon het, was duidelik sigbaar. Lewe onder besetting het volgehoue vrees, agterdog en wantroue in die hand gewerk. Pools-Joodse verhoudings wat selfs voor die oorlog moeilik was, het gaandeweg verswak terwyl Hitler se trawante begin het met die implementering van die sogenaamde Finale Oplossing in die besette Pole.  

Die leiers van die versetsbeweging was bewus van die houding van baie Poolse Christene teenoor hul Joodse landgenote, maar hulle het ook antisemitisme as 'n skandvlek op die nasie beskou. In amptelike geskrifte en onwettige publikasies het hulle betrokke medewerkers gewaarsku oor die moontlike politieke gevolge van die anti-Joodse terreur wat hulle besig was om te implementeer.

Die versetsdirektoraat van burgerlike weerstand het 'n "waarskuwing" uitgevaardig teenoor landsburgers wat Jode verraai.
Karski vertel van sy ontmoeting met die Wertheims, 'n Joodse gesin, en hoe hy hom voorgedoen het as 'n "szmalcownik" (afperser) om hulle sodoende te red.  
'n Amptelike proklamasie van die versetsgroep Front vir die Herlewing van Pole, geskryf deur Zofia Kossak. Kossak was Karski se destydse mentor en vertroueling, medestigter van die Katolieke versetsgroep Front vir die Herlewing van Pole en die Żegota-bystandsraad vir Jode, en skrywer van gewilde geskiedkundige fiksie.  

"Die wêreld aanskou hierdie gruweldade, meer afgryslik as enigiets ooit in die annale van die geskiedenis – en hulle bly stil... Hierdie stom stilte kan nie langer geduld word nie. Wat ook al hul beweegredes mag wees, hulle is veragtelik. Die mense en nasies wat verkies om stil te bly ten aanskoue van so 'n slagting word inderwaarheid 'n bemagtiger van die moordenaars. Wie nie oordeel nie raak 'n samesweerder."

Zofia Kossak het in "Protest" geskryf. 

Duits-Nazi-regulasies het beteken dat mense wat bloot inligting weerhou oor waar Jode hul mag skuilhou – om nie eens te praat van help met die verskuiling nie – het hulself blootgestel aan ernstige en selfs dodelike gevolge. Diegene wat aktief hulp verleen het se hele familie is in gevaar gestel.  

Die Derde Bevel van generaal-goewerneur Hans Frank, oor verblyfsbeperkings in die Generalgouvernement-deel van Pole, wat ook die doodstraf ingestel het vir enige soort hulpverlening aan Jode, is op 15 Oktober 1941 uitgevaardig.  

Die Duitse Nazi's begin op 22 Julie 1942 met massadeportasies vanuit die Warskou-ghetto na die Treblinka-doodskamp.  

Jode van die Warskou-ghetto op pad na Umschlagplatz, waar hulle deur die Nazi's bymekaar gemaak is voor hul deportasie na die Treblinka-uitwissingskamp.
Toe Karski die ghetto besoek het, was byna 300 000 Jode reeds gedeporteer.

In die herfs van 1942 het Karski sy laaste en ook belangrikste sending onderneem – 'n sending wat die oorlewende Jode in Pole moontlik kon red. Hy het die voortslepende uitwissing van Joodse Pole persoonlik aanskou en kon sodoende ook 'n ooggetuieverslag oor die Finale Oplossing lewer. In dié verband is hy twee keer in die Warskou-ghetto ingesmokkel om die benarde toestande van die Jode daar self te sien.

"Dit was nie die wêreld nie. Dit was nie die mensdom nie. Dit was soos 'n wesenlike hel." - So het Karski dit aan Claude Lanzmann verduidelik, 36 jaar later.

"Naakte dooies lê op die strate verstrooi. Ek het my gids gevra "Waarom is hulle hier?" Hy het verduidelik "Wel, hulle het 'n probleem. As 'n Jood sterf en die familie wil 'n begrafnis hê moet hulle 'n belasting daarop betaal. Daarom los hulle die dooies op straat. Hulle kan dit nie bekostig om hulle te begrawe nie. Omdat hulle sê ‘elke rafel tel’, vat hulle dan ook die dooies se klere."

Karski beskryf sy besoek aan die ghetto in 1978 aan Claude Lanzmann.

Die Joodse leiers wat Karski in die ghetto help insmokkel het, het ook gereël dat hy 'n Duits-Nazi-transitokamp kon besoek, waar Jode in treinwaens ingeprop is, om na hul dood gestuur te word. Karski het selfs met 'n vermomming daarin geslaag om die Izbica-transitokamp binne te dring. Vir jare daarna het hy geglo dat hy ook in die konsentrasiekamp in Bełżec was, soos hy dit in sy 1944-boek, "Courier from Poland: The Story of a Secret State", beskryf het. Later het hy die hartverskeurende ondervinding beskryf in sy onderhoud met Lanzmann, vir die film Shoah.

Karski onthou sy besoek aan Izbica in sy onderhoud met die Franse filmmaker Claude Lanzmann, in 1978.  
Jode word ingestop in 'n trein na Treblinka by die Umschlagplatz, Stawkistraat, Warskou, 1942.
Karski beskryf die Duitse Nazi's se metodiek in die Finale Oplossing aan Claude Lanzmann.  

"Hulle het hul geweerkolwe gebruik vir stoot en skote gevuur om hulle in die trokke in te forseer. Hulle is ingestoot in die trokke soos sakke, selfs in bondels opmekaar, kop-onderstebo. Twee trokke was vol, en toe ry die trein. Ek was siek van wat ek gesien het."

Ten spyte van naas oorweldigende probleme, en met behulp van 'n menige vals identiteite, met allerlei maniere en vindingrykheid om oor die weg te kom, het Karski Londen teen die einde van November bereik. Daar het hy gedetailleerde geskrewe verslae opgestel vir die Poolse ballingskapregering in Londen, en ook Anthony Eden, die Britse minister van buitelandse sake, daaroor ingelig. Karski is selfs na Washington gestuur, waar hy 'n uur lange onderhoud met president Franklin Roosevelt gehad het. Hy het met albei leiers gepleit om die Joodse volksmoord te stop. Ongelukkig het sy boodskap grootliks op dowe ore geval.  

'n Geskrif aan die Geallieerdes en neutrale regerings oor die uitwissing van Jode in Duits-besette Pole, 10 Desember 1942.

Op 10 Desember 1942 het die Poolse minister van buitelandse sake 'n geskrif aan die regerings van die Volkebond voorgelê wat die volgehoue massamoorde op besette Pole se Joodse burgers beskryf het, onder andere gebaseer op Karski se ooggetuienis.  

'n Week later het die Geallieerdes formeel Duitsland se beleid van uitwissing van die Jode in Europa veroordeel. Die Britse minister van buitelandse sake, Anthony Eden, het die bepalings van 'n verklaring in die Laer Huis voorgelees en raadslede het in oomblikke van stilte hul gesamentlike steun vir die verklaring getoon. Die BBC het daardie aand die verklaring op die nuus uitgesaai.

"Die twaalf geallieerde regerings neem kennis van talle verslae vanuit Europa dat die Duitse owerhede nie net die besette lande se Joodse inwoners van hul basiese menseregte ontneem nie, maar inderwaarheid besig is om Hitler se droom te verwesenlik, naamlik om die Jode van Europa letterlik uit te wis. ... Bogenoemde regerings en die Franse Nasionale Komitee veroordeel die barbaarse Duitse beleid van koelbloedige uitwissing ten sterkste. Die Geallieerdes bevestig weereens hul onverbiddelike voorneme om te verseker dat diegene wat vir hierdie dade verantwoordelik is nie vergelding vir hul wandade sal vryspring nie, en praktiese maatreëls sal tref om dit te verwesenlik."

Verklaring van die 12 geallieerde regerings in die saak van die verantwoordelikheid vir die uitwissing van die Jode, 17 Desember 1942.

Karski het sy skokkende en afgryslike ooggetuieverslag aan tientalle mense oorgedra – aan politici, joernaliste en skrywers – wat leiers in die Vrye Wêreld was. Hy het aan die Britse minister van buitelandse sake, Anthony Eden, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Cordell Hull, die Amerikaanse hoërhofregter Felix Frankfurter en selfs president Franklin D. Roosevelt verslag gedoen. Die afgesant het met die leiers gepleit om iets daadwerklik te doen. Met die oordra van die Poolse Joodse leiers se pleidooi het hy weergegee wat hy gesien het. "Ek was 'n kamera", "Ek was 'n masjien", "Ek was soos 'n grammofoonplaat", het hy later gesê.  

Jan Karski in 1943.

"Ek was soos 'n grammofoonplaat."

Het Karski in latere dae gesê. 
Karski onthou een van sy mees gedenkwaardige ontmoetings, met Szmul Zygielbojm, 'n lid van die nasionale raad van die Poolse ballingskapregering.
'n Paar maande ná Karski se ontmoeting met Szmul Zygielbojm, in April 1943, het die Jode in die Warskou-ghetto in opstand gekom, in wat later bekend geword het as die Warskou-ghettorebellie. Met ligte en skamele wapens het hulle drie weke lank uitgehou. In die middel van Mei 1943 het die vyand die ghetto in sy geheel verbrand en in puin gelê, saam met al die oorlewendes binne. Niks het oorgebly nie, net smeulende ruïnes.

Szmul Zygielbojm het toe in Londen sy eie lewe geneem. In 'n brief wat hy nagelaat het, het hy gesê sy selfmoord was 'n protes teen die passiwiteit van die Geallieerdes oor die ondergang van die Jode, en hy het gehoop dat dit sommige van die oorlewende Jode mag red.  

"Die Joodse probleem gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Zygielbojm se dood meegebring. Dit illustreer die totale magteloosheid en kille afsydigheid van die wêreld daarbuite."
Szmul Zygielbojm se afskeidsbrief, 11 Mei 1943
Op 28 Julie 1943 het Karski weer vir president Franklin D. Roosevelt verslag gedoen oor die algemene toestand van sake in die besette Pole en die benarde situasie waarin die Joodse volk hulle bevind het.
President Franklin D. Roosevelt

Almal sou verwag het – net soos Jan Karski – dat president Franklin D. Roosevelt, een van die groot voorstanders van regverdige mensdom, sou kon help om die Nazi-Joodse volksmoord te stop en sy mag kon gebruik om van die oorblywende Jode te red, deur sy militêre mag te gebruik, omdat hy hul opperbevelhebber was. Dit moes egter wag tot baie later in die oorlog, toe die Amerikaanse regering stappe gedoen het en die Oorlogsvlugtelingeraad gestig het, en uiteindelik sowat 200 000 Europese Jode gered het.

In 1943 het Karski 'n regter van die Amerikaanse Hoërhof , regter Felix Frankfurter, ontmoet. Karski was verpletter dat 'n regsman geweier het om te glo dat daar 'n moontlikheid van menslike wreedheid op so 'n massiewe skaal was.

"My verstand, my hart – hulle is gemaak op so 'n wyse dat ek dit nie kan aanvaar nie. Ek is werklik 'n kenner van mense. Ek ken die mensdom, en ek ken manne. Onmoontlik! Nee! Nee!"

Het Felix Frankfurter gesê nadat hy Karski se verslag gehoor het. 

Omdat sy identiteit teen dié tyd aan die Duitse Nazi's bekend was, kon Karski nie na Pole terugkeer nie. Die ballingskapregering het hom egter op 'n nuwe sending gestuur: om Hollywood te oorreed om 'n rolprent oor die oorlog in Pole te maak – as 'n poging om die publiek te oorreed tot meegevoel vir 'n Pole wat bedreig word deur Sowjet-oorheersing. Nadat die filmplan net by praatjies gebly het, het Karski dag en nag begin werk aan 'n boek oor die Poolse versetsbeweging en sy oorlogervaring. "Courier from Poland: The Story of a Secret State" is in die VSA deur Houghton Mifflin gepubliseer en het 'n oornag sensasie geword en 400 000 eksemplare verkoop. Dis ook vinnig in Frans, Sweeds, Noorweegs en Yslands vertaal.

Eerste uitgawe van "Courier from Poland: The Story of a Secret State".

Nadat "Courier from Poland: The Story of a Secret State" 'n blitsverkoper geword het, is Karski genooi om lesings oral in die VSA en Kanada te gee oor die Poolse versetsbeweging en die situasie in die besette Pole onder die Nazi's. En toe, feitlik oornag, het omstandighede heeltemal verander.

Karski het lesings dwarsoor die VSA en Kanada gehou oor die Poolse versetsbeweging.

In 1945 het die Amerikaanse regering die nuwe Sowjet-beheerde Poolse skynregering in Lublin erken. Karski en die Poolse regering wat hy verteenwoordig het was summier vergete, op aandrang van Stalin. In die nuwe Pole onder Sowjet-heerskappy was daar geen plek vir opposisie nie. Alle oorlewende vegters van die versetsregering is as "besotte dwerge en reaksionêres" bestempel en is ongenadiglik deur die nuwe elite uitgeroei.   

Jan Karski in 1943.

Omdat hy nie na Pole kon terugkeer nie, moes Karski noodgedwonge 'n nuwe lewe in Amerika begin. Hy het bitter swaargekry, en huise opgeknap om sy inkomste aan te vul. Toe is hy deur die president van Georgetown Universiteit, Edmund A. Walsh, uitgenooi om 'n akademiese loopbaan te volg. Georgetown was vir 40 jaar Karski se tuiste, waar hy by die Skool van Buitelandse Studies werksaam was en ook 'n groot invloed op toekomstige leiers gehad het.  

In 1952 het Jan Karski sy doktorsgraad aan Georgetown Universiteit verwerf.  

In 1965 is Jan Karski getroud met Pools-Joodse danser-choreograaf, Pola Nireńska, die werklike liefde van sy lewe. Die meeste van haar Joodse familie is gedurende die oorlog in doodskampe vermoor. Slegs Nireńska en haar ouers het ontsnap. Sy het Pole in die vooroorlogse jare verlaat om haar droom om 'n danser te word, te bewaarheid, terwyl haar ouers in die dertigerjare na Palestina verhuis het, omdat hulle 'n vermoede gehad het dat die Jode in Europa in gevaar was.  

Nireńska is herdoop as 'n Katoliek net voor hul troue. Karski het later gesê dat sy vrou gehou het van die feit dat God in die Katolieke geloof 'n Joodse vrou gekies het om die moeder te wees van sy geliefde seun.  

Vir meer as 30 jaar het Karski meestal die swye bewaar oor sy ervarings gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Slegs ná die volgehoue pleidooie van die Franse film-produsent Claude Lanzmann, wat besig was om 'n dokumentêre film oor die Nazi-Joodse volksmoord te maak, het Karski ingewillig om sy storie aan 'n wyer gehoor te vertel.

Die agt uur lange onderhoud was die begin van Karski se "tweede sending", om oor die Nazi-Joodse volksmoord te praat en om weer die leiers van die Vrye Wêreld te probeer betrek. As 'n gerespekteerde professor het hy die erns van individuele gewetes en gepaardgaande waardes beklemtoon, en die ongevoelige pragmatisme van nasies, organisasies en state verdoem.

In Claude Lanzmann se film Shoah het Karski sy verhaal aan 'n wyer gehoor oorgedra, na 'n swye van meer as 30 jaar.

"Ek gaan nie terug na my herinneringe nie... Ek praat nie daaroor nie."  

Gedurende die vroeë tagtigerjare het Karski sy "tweede sending" aangepak, naamlik om die wêreld te herinner van die Geallieerdes se destydse laakbare afsydigheid.

"Die Here het 'n lewenstaak aan my toevertrou – om te praat en te skryf gedurende die oorlog toe dit myns insiens 'n wesenlike verskil kon gemaak het. Maar dit het nie. Toe die oorlog verby was het ek gevind dat die regerings, die leiers, die geleerdes en die skrywers nie geweet het wat werklik met die Jode in Europa gebeur het nie. Hulle kon dit eenvoudig ook nie glo nie. Die moord van ses miljoen onskuldiges was inderdaad 'n geheim, 'n onmenslike geheim. ... Toe word ek 'n Jood. Maar ek is 'n Christen-Jood. Ek is ook 'n belydende Katoliek. ... My geloof het my laat besef dat die mensdom die tweede erfsonde gepleeg het: deur hul aanvaarding, of versuim, of deur die gebeure uit hul gewete te vee, deur 'n afstomping, of eiebelang, of skynheiligheid of doelbewuste rasionalisasie. Hierdie sonde sal die mensdom bybly vir ewig en altyd. En ek wil dit so hê."

Het Karski by die Internasionale Bevryderskongres in 1981 gesê.

In Junie 1982 het Jan Karski sy boom geplant in die Laan van Geregverdigdes onder die Nasies in die Herzlberg-begraafplaas in Jerusalem. In die daaropvolgende jare is meer lof aan hom toegeswaai: die Anti-Defamation League se Courage to Care-toekenning (1988, in 2012 hernoem na die Jan Karski Courage to Care-toekenning); die Pius XI-toekenning (1990); die Eisenhower Liberation-medalje (1991); die Wallenberg-medalje (1991) en die presidensiële Medal of Freedom (2012) toegeken deur president Barack Obama.

Op 7 Junie 1982 het Yad Vashem Jan Karski erken as 'n Geregverdigde onder die Nasies.
Op 12 Mei 1994 is die ereburgerskap van Israel aan professor Karski toegeken.

"Nou het ek, Jan Karski – gebore Kozielewski – 'n Pool, 'n Amerikaner en 'n Katoliek ook 'n Israeliet geword! Gloria, gloria in excelsis Deo. Dit is die trotsste en mees betekenisvolle dag van my lewe. Deur die ereburgerskap van die staat Israel het ek gekom by die geestelike kern van my geloof as 'n Christen."

Het Karski by die aanvaarding van ereburgerskap van Israel in 1994 gesê. 

Professor Karski was net 'n man, 'n ware nasionale held vry van alle vorms van chauvinisme – hy was die verpersoonliking van "die trots en adel van die Pole van weleer," soos Adam Michnik dit beskryf het nadat hy die Jan Karski Eagles-toekenning ontvang het.

In die tagtiger- en negentigerjare was die professor betrokke by 'n oorbruggingpoging van 'n pynlike verwydering tussen Pole en Jode in Amerika en wêreldwyd, met sy werk om 'n Pools-Joodse dialoog te bewerkstellig ná die oorlog. Karski het die durf en waagmoed gehad om teen die stroom van denke te gaan, en hy het nie gehuiwer om sy Poolse medeburgers se gedrag en politiek te kritiseer nie.

In 1989 het kommunisme verbrokkel; dit het begin in Pole en daarna in die res van Sentraal-Europa. Die geleidelike aftakeling het in 1980 begin, met die stigting van Solidarność (solidariteit), onafhanklike werkersvakbonde, inspirasie van Johannes Paulus II en die nimmereindigende ywer van die prodemokratiese opposisie in Pole. Karski, wat in die Poolse Volksrepubliek persona non grata was, het uiteindelik die erkenning gekry wat hy verdien het.  

Lech Wałęsa is deur sy ondersteuners op die hande gedra in sy triomf ná die registrasie van die Solidariteit-werkersvakbond, op 10 November 1980.
Plakkaat vir die Poolse verkiesing van 4 Junie 1989, die eerste vrye verkiesing in die nuwe demokratiese Pole.  
In 1995 het Karski die hoogste Poolse siviele toekenning ontvang van president Lech Wałęsa, naamlik die wit arend.
Georgetown Universiteit se Skool van Buitelandse Studies, waar Karski die geskiedenis van kommunisme en internasionale verhoudinge 40 jaar lank doseer het, is een van die mees vooraanstaande universiteite vir jong Amerikaners en internasionale studente wat 'n diepere kennis oor internasionale politiek en wêreldsake verlang. Baie van vandag se mees gerespekteerde politici, erkende leiers van die gemeenskap en sakeleiers tel onder Karski se studente.

Karski is op 13 Julie 2000 oorlede, maar sy morele erflating bly steeds vir ons behoue. Solank jonk en oud wil leer oor die sinnelose gruwel van die Nazi-Joodse volksmoord, wat so 'n skandvlek oor 'n oorlogverskeurde en besette Pole gelaat het, sal Karski se boodskap die wêreld bybly. Die noodsaak vir sy wysheid en insig bly steeds met ons, en is daar as 'n inspirasie en 'n handleiding vir ons optrede indien die wêreld weer in 'n soortgelyke krisis gedompel sou word. Hulle leer hoe om boodskappers vir die waarheid te word. Jan Karski, "Humanity’s Hero", vra ons almal om in die bresse te tree vir die onderdruktes in ons midde.

Baie individue en instellings het met hart en siel saamgewerk om professor Karski en sy dade na regte te huldig; deesdae begin hierdie pogings vrugte afwerp. Die Poolse Historiese Museum in Warskou is in beheer van die Jan Karski Unfinished Mission-projek, in samewerking met die Jan Karski US Centennial Campaign, wat gelei het tot die Jan Karski Educational Foundation. Hierdie groepspogings het dit ten doel om die kollig te skyn op hierdie werklik besondere man, en om Karski se erflating met internasionale opvoedkundige aktiwiteite, publieke samekomste en selfs kunsgerigte uitvoerings te vier, tot en met die eeufeesjaar van sy geboorte (in 2014) – en verder die toekoms in. 

Jan Karski, Maart 2000.
Poolse oudminister van buitelandse sake, Adam Daniel Rotfeld, ontvang die presidensiële Medal of Freedom namens Jan Karski van die Amerikaanse president Barack Obama, op 29 Mei 2012.  

"Ons moet ons kinders vertel hoe hierdie haas onbeskryflike gruweldade gebeur het, en hoe dit toegelaat is om te gebeur – omdat soveel mense die knie gebuig het voor hul donkerste en mees barbaarse instinkte; waarna soveel ander net in 'n stom stilte gekyk het. Laat ons ons kinders vertel oor die Geregverdigdes onder die Nasies. Jan Karski was een van hulle – 'n jong Poolse Katoliek – wat gesien het hoe die Jode in spoorwegtrokke tot oorlopens toe volgeprop is, wat die moorde gesien het en die waarheid aan die wêreld blootgelê het, tot by president Roosevelt self. Jan Karski is meer as 'n dekade gelede oorlede. Maar vandag is ek trots om aan te kondig dat ek hom hierdie lente sal vereer, met Amerika se hoogste burgerlike toekenning – die presidensiële Medal of Freedom."  

Amerikaanse president Barack Obama, 23 April 2012, Amerikaanse Holocaust Memorial Museum.
Erkenning: storie

Curation — Dorota Szkodzińska, Polish History Museum
Edition — Wanda Urbańska, director of the Jan Karski US Centennial Campaign
Under the supervision of — Ewa Wierzyńska, leader of Jan Karski. Unfinished Mission program, Polish History Museum
IT support — Artur Szymański 
We would like to thank all partners in the project: — The Museum of the City of Łódź, The Jewish Historical Institute in Warsaw, E. Thomas Wood, Carol Harrison, Hoover Archives, The United States Holocaust Memorial Museum.
Exhibit's origins — The exhibit is one of the projects of Jan Karski. Unfinished Mission program run by Polish History Museum. More information on www.JanKarski.org and www.JanKarski.net.

Erkennings: Alle media
Die storie hier is in sommige gevalle moontlik deur 'n onafhanklike derde party geskep en verteenwoordig nie noodwendig die sieninge van die instellings hieronder wat die inhoud verskaf het nie.
Vertaal met Google
Tuis
Verken
Naby
Profiel