1968 – 1997

Aanhouding sonder verhoor in John Vorster-plein

South African History Archive (SAHA)

"...die ikoniese instelling van die apartheidsjare, van die jare van marteling, van die bewind van die veiligheidspolisie, van die bewind van die mal magte..."
BARBARA HOGAN, gewese aangehoudene
Sharpeville-slagting, 21 Maart 1960
Sharpeville-slagting, 21 Maart 1960

Tussen 1960 en 1990 het opeenvolgende Nasionale Party-regerings in apartheid-Suid-Afrika op groot skaal van aanhouding sonder verhoor gebruik gemaak as 'n wapen om politieke teenkanting, groeiende weerstand en ondermyning te bekamp.

Na die Sharpeville-slagting in 1960, die daaropvolgende verbod op die African National Congress (ANC) en die Pan African Congress (PAC) en die afkondiging van 'n gedeeltelike noodtoestand, het die Eerste Minister, HF Verwoerd, vir BJ Vorster as Minister van Justisie aangestel.

Balthazar Johannes (John) Vorster, wat Verwoerd later as Eerste Minister sou vervang, was 'n "verkrampte" – 'n onversetlike Afrikaner-nasionalis – wat gewaarsku het:

"...die ineenstorting van wet en orde sal onder hoegenaamd geen omstandighede geduld word nie."

Die noodtoestand het 5 maande lank geduur en tot die aanhouding van meer as 11 500 mense gelei. Vorster het Suid-Afrika se veiligheidsbeleid vinnig verskerp, 'n benadering van feitlik geen verdraagsaamheid teenoor enige weerstand teen die staat ingestel, en verseker dat die Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie uitgebreide magte gekry het.

Die Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie is oorspronklik laat in die 1940's ingestel as 'n regstreekse gevolg van aktiwiteite van die toe nog wettige Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). In ooreenstemming met wydverspreide antikommunistiese sentiment na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het die Veiligheidstak opdrag gekry om kommuniste, swart nasionaliste en sogenaamde "radikale" organisasies dop te hou.

Onder BJ Vorster se wakende oog het hulle gegroei tot die "mal magte", wat dwarsoor die land gevrees is. 

Sunday Times-nuusberig uit Augustus 1961 waarin BJ Vorster se opgang tot mag geskets word

"Dit is dalk nie onvanpas nie om agbare lede daaraan te herinner dat die groot Amerikaanse regsgeleerde, Wigmore, by geleentheid gevra het

"Vanwaar die skielike besorgdheid oor misdadigers?"

My vraag is 

"Vanwaar die skielike besorgdheid oor kommuniste in Suid-Afrika?"

                                - BJ VORSTER in die Parlement in 1962
Anti-apartheidsaktivis en politikus, HELEN SUZMAN, oor BJ Vorster
Algemene Regswysigingswet, 1963
Artikel 6 van die Wet op Terrorisme, no. 83 van 1967

Saam met 'n groeiende aantal ander wette wat aangeneem is om teenstanders van apartheid die swye op te lê, is aanhouding sonder verhoor gebruik met die oog op ondervraging en straf, asook om individue van hulle gemeenskappe en ondersteunersbasisse te skei.

Die opsie van aanhouding sonder verhoor is die eerste keer vervat in die regulasies kragtens die Wet op Openbare Veiligheid van 1953, wat aangeneem is na aanleiding van toenemende militantheid en teenkanting soos beliggaam deur die Defiance Campaign (uitdaagveldtog).

In 1961 het die Algemene Regswysigingswet voorsiening gemaak vir tot 12 dae aanhouding sonder verhoor in nienoodtoestandsituasies. Dit is in 1963 tot 90 dae aanhouding verleng in reaksie op 'n toename in gewapende aktiwiteite deur die ANC en die PAC. Dit is later gewysig om vir 180 dae aanhouding sonder verhoor voorsiening te maak.

Laastens het die gedugte Wet op Terrorisme van 1967 voorsiening gemaak vir onbepaalde aanhouding met die oog op ondervraging.

Aangehoudenes kon deur 'n landdros besoek word, maar toegang tot die howe of besoeke van regsverteenwoordigers is nie toegelaat nie.  

'n Menseregteprokureur, GEORGE BIZOS, praat oor sinistere veranderinge aan die Veiligheidstak onder BJ Vorster

"John Vorsterplein was die toppunt van martelkamers."    

                                        - JAKI SEROKE, gewese aangehoudene 
Die selblok by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie

Meer as 40 jaar gelede, op 'n kouerige dag laat in Augustus 1968, het eerste minister Balthazar John Vorster die John Vorsterplein-stasie geopen. Hy het die breë blou struktuur wat oor die deurpad in die middestad van Johannesburg uitkyk, as 'n uiters moderne polisiestasie bestempel omdat dit al die belangrike afdelings van die polisie onder een dak gehuisves het, en het gespog dat die glinsterende nuwe gebou die grootste polisiestasie in Afrika is.

Dit was dalk gepas dat die gebou na Vorster vernoem is – as die gewese Minister van Justisie het hy gesorg vir die instelling van streng veiligheidswette om die teenkanting teen apartheid te onderdruk en het hy verseker dat die Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) uitgebreide magte kry.

John Vorsterplein het gou 'n reputasie as 'n plek van wreedheid en marteling verwerf en het gedurende die 1970's en 1980's die vernaamste sentrum vir aanhouding en ondervraging aan die Witwatersrand geword.

Tussen 1970 en 1990 het agt mense wat almal kragtens aanhoudingsregulasies aangehou is, gesterf as gevolg van aanhouding by John Vorsterplein.

BJ VORSTER aan die woord by die opening van John Vorsterplein in 1968 (met vergunning van die SABC)
John Vorsterplein in aanbou, 1968

Die oprigting van 'n nuwe gebou te Commissionerstraat 1 ter vervanging van Johannesburg se Marshallplein-polisiestasie het in 1964 begin. Die gebou is deur die firma Harris, Fels, Janks en Nussbaum ontwerp en was bedoel om in die Veiligheidstak se groeiende behoefte aan ruimte vir aanhouding en ondervraging te voorsien.

Die kantore van die Veiligheidstak is op die 9de en 10de verdiepings van die nuwe polisiehoofkantoor ingerig, en toegang tot die gou berugte 10de verdieping is beperk deur te verseker dat die hyser net tot op die 9de verdieping gaan. Politieke gevangenes het 'n laaste stel trappe gebruik om die 10de verdieping te bereik, waar 'n onbepaalde aantal aangehoudenes gemartel is.

Die aangehoudenes se selle was op die onderste verdiepings en was spesiaal vir eensame aanhouding ontwerp. Die mure was donkergrys geverf en die vloere was swart. In een hoek was 'n skuimrubbermatras en in 'n ander hoek 'n toilet. Dik veselglas het die vensters en tralies bedek. In die middel van die hoë plafon was 'n enkele gloeilamp wat nooit afgeskakel is nie. John Vorsterplein was hel vir die honderde anti-apartheidsaktiviste wat in die selle aangehou is.

Uitsig vanaf die 10de verdieping van die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie

"Ek was bo in 'n sel waar daar dik glas, koeëlvaste tipe glas was waar jy niks kon doen nie. En aan hierdie kant ook, daar was glas orals oor die tralies. Die sel was dus baie geïsoleer. Jy het soms gevoel of jy mal is. Jy dink tot jy nie meer kan nie ... en dan die reuk, jy word deel van die reuk..."

                                                                                                                                           - JABU NGWENYA, aangehoudene, 1981
Die bronsbeeld van BJ Vorster in die foyer van John Vorsterplein op die voorblad van die SAP-tydskrif van Maart 1977

"Die veiligheidspolisie het 'n wrede kalmte van mense sonder siele gehad"

                                                - MOLEFE PHETO, gewese aangehoudene
Veiligheidspolisiemanne sosialiseer na werk by die klubhuis by John Vorsterplein, datum onbekend
PAUL ERASMUS, gewese veiligheidspolisieman

"Om 'n revolusionêre oorlog te voer, is baie moeiliker as om gewone misdadigers te bekamp. Jy moet onthou dat jy soms teen die beste van die bestes veg; die beste beskikbare breins in hierdie aanslag is jou teenstanders. Jy moet een stap voor hierdie mense wees.

By terugblik is dit ongelukkig dat hierdie dinge gebeur het. As my teenstanders terugkyk, is dit ook ongelukkig dat sekere polisiemanne omgekom het in bomontploffings en in aanvalle op hulle huise. Maar albei kante moet 'n punt bewys en jy moet resultaatgedrewe wees... Ons was daar om die interne veiligheid van die Republiek te handhaaf. Gevolglik was dit soms baie, baie moeilik."

                                                                                                                       - HENNIE HEYMANS, gewese veiligheidspolisieman

Vanaf die 1960's is alle lede van die Veiligheidstak op kursusse gestuur om spesiale opleiding in marteltegnieke te ontvang.

Die Veiligheidstak het 'n reputasie van uiterste wreedheid en onmenslikheid in sy ondervragingsmetodes ontwikkel, veral by John Vorsterplein.

Slaapontneming het die grondslag van alle ondervraging gevorm, met spanne ondervraers wat dag en nag gewerk het om aangehoudenes tot 'n staat van algehele afhanklikheid af te takel. 

'n Gewese veiligheidspolisieman, PAUL ERASMUS, agter sy lessenaar in sy kantoor op die 9de verdieping van John Vorsterplein, datum onbekend
'n Joernalis, JAMES SANDERS, bespreek veiligheidsmagte van die apartheidsera

"Ons was, volgens generaal Coetzee, 'n spul idiote wat die hele ding verkeerd vertolk het. Sy hande was skoon: hy het eenvoudig gesê "Permanente verwydering uit die samelewing...", maar hy het dit nie bedoel nie.

Dit was domkoppe soos ons, jy weet, die laer range, ek reken, die bourgeois, maar in elk geval, ek reken, die idiote wat dit verkeerd vertolk het. Maar die werklikheid is dat ons 'n vrypas gehad het om te moor en te plunder op 'n skaal wat ongelooflik was en jy het geweet jy kan daarmee wegkom en dis presies wat gebeur het."

                                                                           - PAUL ERASMUS, gewese veiligheidspolisieman
'n Aangehoudene, dr Elizabeth Floyd, oor die Veiligheidspolisie

Hy het van die negende verdieping af geval

Hy het homself opgehang

Hy het op 'n stuk seep gegly terwyl hy gewas het

Hy het van die negende verdieping af geval

Hy het homself opgehang terwyl hy gewas het

Hy het van die negende verdieping af geval

Hy het van die negende verdieping af gehang

Hy het op die negende verdieping gegly terwyl hy gewas het

Hy het van 'n stuk seep afgeval toe hy gegly het

Hy het van die negende verdieping af gehang

Hy het van die negende verdieping af gespoel toe hy gegly het

Hy het aan 'n stuk seep gehang terwyl hy gewas het

                                                                                                                                                      "In aanhouding" deur Chris van Wyk

AHMED TIMOL – oorlede op 27 Oktober 1971

Teen 1971 was daar reeds 21 sterftes in aanhouding orals in Suid-Afrika se tronke.

Op hierdie dag het John Vorsterplein tot daardie getal bygedra toe Ahmed Timol, 'n 30-jarige onderwyser, na sy dood geval het van die 10e verdieping van John Vorsterplein. Hy was 'n lid van die destyds verbode Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en is by 'n polisiepadblokkade in hegtenis geneem vir die besit van verbode lektuur.

Die polisie het beweer dat Timol selfmoord gepleeg het, 'n verskoning wat deur 'n amptelike doodsondersoek gesteun is, selfs al het die staatspatoloog, dr. Jonathan Gluckman, opgemerk dat Timol se liggaam tekens gehad het dat hy voor sy dood geslaan is.

Die veiligheidspolisie het dikwels vir aangehoudenes gesê "Indians can't fly" en het John Vorsterplein "Timol Heights" genoem.

Ahmed se familie het gehoop die polisiemanne wat by sy dood betrokke was, sou by die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) na vore kom om die waarheid te vertel oor hoe hy gesterf het. Maar hulle het nie. 

Die Departement van Justisie se verslag oor die geregtelike doodsondersoek na Timol se dood
Getuienis van Hawa Timol oor haar seun, AHMED TIMOL, voor die WVK se Komitee oor Menseregteskendings, 30 April 1996 (met vergunning van die SABC)
Foto van AHMED TIMOL, van 'n ANC-gedenkplakkaat  
PROFESSOR KANTILAL NAIK, aangehoudene, Oktober 1971 - Februarie 1972
Tekening deur NAIK op toiletpapier van een van sy ondervraers terwyl hy in aanhouding was
NAIK oor aanhouding en marteling met die "helikopterbehandeling"

Visueel het ek nooit die blou kleur van die gebou vergeet nie, selfs nie in ballingskap nie. Ek kon nie die blou van hierdie gebou vergeet nie, die struktuur, hoe dit lyk

...die blink vloere, metaalagtige, blink, grys vloere in die gang... die geluid van daardie hekke... die krag en die klingelende sleutels, byna elke keer is daar 'n klingelende sleutel en dan wonder jy watter sel gaan hulle oopmaak of kom hulle na my sel toe? 

                                                    - MOLEFE PHETO, aangehoudene, 1975
MOLEFE PHETO, aangehoudene, 1975
Ingang na die 9de verdieping van die Johannesburg Sentraal-polisiestasie
Soweto-opstand, 16 Junie 1976

In die nasleep van die Soweto-opstand van Junie 1976 het die polisie groter bevoegdheid gekry om verdagtes sonder verhoor aan te hou.

Dit is gedoen met die aanneem van die Wysigingswet op Binnelandse Veiligheid, wat dit moontlik gemaak het om verdagtes vir 'n onbeperkte tydperk aan te hou sonder magtiging van 'n regter.

"Hulle het 'n kragopwekker ingebring en my beveel om my klere uit te trek en ek het gesê ek gaan hulle nie help om my te martel nie. As hulle my wil martel, moet hulle my eers bewusteloos uittrek... Uiteindelik het hulle gefrustreerd geraak en stoele met ysterrame begin gebruik om my mee te slaan.

En elke keer wanneer hulle my aanrand, ek het reeds deur my neus en mond gebloei, het ek my bloed op hulle gespoeg net om hulle kwaad te maak.

'n Taktiek wat begin sê as hulle eers kwaad is, kan hulle nie rasioneel en so professioneel dink as wat hulle veronderstel is om as ondervraers te wees nie. As hulle eers kwaad is, sal hulle oorkook en enigiets gebruik, en hulle het dit gedoen tot hulle my opgefoeter het."

                                                                                                                                  - ZWELINZIMA SIZANE, aangehoudene, 1976
ZWELINZIMA SIZANE, aangehoudene, 1976
Panoramiese uitsig vanaf die dak van die Johannesburg Sentraal-polisiestasie
JOYCE DIPALE, aangehoudene, 1976

"John Vorsterplein... vier of vyf mans en dan blinddoek en dan elektriese skok, alles. Ek weet nie... Woedend. Blinddoek en marteling, borste, alles. Hoekom? Ek verstaan nie... Hoekom martel? In elk geval, dis jammer... En dan is ek kwaad en weier dus om te praat. Hoekom martel? Daarom praat ek nie. So kwaad. Verkrag of wat, ek gee nie om nie. Niks praat."

                                                                                         - JOYCE DIPALE, aangehoudene, 1976
Tekening deur Clive van den Berg, in samewerking met Joyce Dipale, van die marteling wat sy ondergaan het tydens haar aanhouding

"Ek is boontoe geneem vir dertig dae en ek het vyf en twintig dae daar gestaan, dag en nag. Na agt en twintig dae het hulle my losgelaat en my in my sel gehou. Jy kan dus dink, as ek hierdie plek weer moet besoek, herinner dit my aan daardie bittere nagte terwyl die polisie my aanhoudend geslaan het."

                                                                         - TSANKIE MODIAKGOTLA, aangehoudene, 1976
TSANKIE MODIAKGOTLA, aangehoudene, 1976
Blik op die gang op die 9de verdieping van die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie

"...daardie oomblikke van ware geestelike gewaarwording ... een van die min wat in my lewe met my gebeur het was hier, nadat ek bygekom het na daardie eerste ondervraging en heeltemal alleen in daardie sel was ... die mure was groen en ek onthou dat ek om daardie ding geloop het en absoluut oortuig was dat ons gaan wen.

Dit was g'n kwessie nie, hulle kon my doodmaak, hulle kon enigiets aan my doen, maar ons gaan die stryd wen. Dit was 'n geweldige ondervinding van geloof wat my die hele tyd geweldig opgebeur het..."

                                                                                    - CEDRIC MAYSON, aangehoudene, 1976

WELLINGTON TSHAZIBANE – oorlede op 11 Desember 1976 

Nadat Wellington Tshazibane, wat 'n ingenieursgraad aan die Oxford-universiteit behaal het, in hegtenis geneem is vir beweerde aandadigheid aan 'n ontploffing by die Carltonsentrum in Johannesburg op 7 Desember 1976, is hy dood aangetref waar hy in sel 311 by John Vorsterplein gehang het.

Baie soos met die vorige ondersoek na Timol se dood het 'n amptelike nadoodse ondersoek die polisie van enige verkeerde optrede vrygespreek.

 Wellington Tshazibane se verklaring aan die veiligheidspolisie op 10 Desember 1976

ELMON MALELE – oorlede op 20 Januarie 1977

Elmon Malele is op 10 Januarie 1977 in hegtenis geneem en is aan breinbloeding oorlede in die Princess-verpleeginrigting in Johannesburg. Hy is soontoe geneem nadat hy na bewering sy balans verloor het nadat hy ses uur lank gestaan het ('n standaard marteltegniek) en sy kop teen die hoek van 'n tafel gestamp het.

Hoewel die polisie se nalatigheid en geweld feitlik beslis tot sy dood gelei het, is die polisie nogmaals van alle blaam onthef. In 'n nadoodse ondersoek is bevind dat Malele se dood die gevolg van natuurlike oorsake was.

Die Veiligheidspolisie se foto van die kantoor waar Elmon Malele na bewering sy balans verloor het
Die foto toon waar Mabelane na sy dood geval het.
'n Foto van wat na bewering Mabelane se voetafdruk op die stoel is

MATTHEWS MABELANE - 15 Februarie 1977

Skaars 'n maand na Elmon Malele se breinbloeding het Matthews "Mojo" Mabelane hom dood geval vanaf die 10e verdieping van John Vorsterplein nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy daarvan verdink is dat hy na Botswana op pad is vir militêre opleiding.

Die polisie het later gesê hy het by die venster uitgeklim, sy balans verloor en op 'n motor geval.

Mabelane was die 39ste persoon wat in Suid-Afrikaanse tronke dood is.  

'n Foto van die motor waarop Mabelane geval het
'n Foto van die stoel wat Mabelane na bewering gebruik het om tot op die vensterbank te klim

"My neef-broer Matthew Marwale Mabelane het in Februarie 1977 gesterf deur die toedoen van die polisie by die John Vorsterplein-polisiehoofkantoor. Daar is aangevoer dat hy van die berugte 10e verdieping van die gebou afgespring en onmiddellik gesterf het. Aangesien die verhale van spronge vanaf die 10e verdieping nooit waar was en sal wees nie, wil ons weet wie die moordenaars is wat nie na vore kom en verskoning aanbied vir hulle dade nie. Sulke slenters deur diegene wat hierdie wreedhede gepleeg het, veroorsaak groot woede omdat hierdie moordenaars oor dié dinge sal begin praat net onmiddellik nadat hulle ontmasker is – anders sal hulle stil bly.

Dink hulle regtig hulle slagoffers sal eenvoudig vergeet van die lyding wat hulle vir hulle veroorsaak het? Of dink hulle die mense is nog bang vir hulle en as hulle oor hulle dade praat, sal dit vir hulle nog meer moeilikheid veroorsaak soos in die verlede? Die familie en naasbestaandes is baie ontsteld oor die stilswye van Matthew se moordenaars. Die tyd word nou min. Laat hulle na vore kom en vertel wat gebeur het. Ons wil hulle ook sien, hoe hulle lyk, of hulle regte mense is en gesinne, kinders, familielede en vriende het."

                                                                - Inskrywing deur mnr KC Mabelane in die WVK se Register van Versoening, 10 September 1998

"By John Vorsterplein was dit altyd dieselfde mense. 

Hoe was hulle? Hulle was baie saaklik. Hulle siening was eenvoudig. Hulle gaan ons intimideer, hulle gaan ons martel, hulle gaan ons ondervra.

Ons sal vir hulle die waarheid vertel. Ons sal vir hulle sê wie ons aanhits, wie vir ons opdragte gee. Ons sal vir hulle sê wie in die ANC vir ons leiding gee om dit te doen. As ons weier, sal ons geslaan en gedreig word."

                                                                       - PENELOPE "BABY" TWAYA, aangehoudene, 1977
PENELOPE "BABY" TWAYA, aangehoudene, 1977

"Dit was 'n bose plek, 'n plek waar aaklige dinge met mense gebeur het ... dit was 'n plek waar marteling plaasgevind het, en dit was die sentrum vir die Veiligheidspolisie. Dit was 'n plek waar daar geen genade was nie en dit was 'n plek waar, basies, psigopate bedrywig was."

                                                                                     - BARBARA HOGAN, aangehoudene, 1981

"Om duiwe op die vensterbank te hoor koer was harmonieus ... mens het probeer vashou aan klanke wat enige vorm van lewe bied om te kan oorleef."

                                                                                     - BARBARA HOGAN, aangehoudene, 1981
Duiwe buite die Johannesburg Sentraal-polisiestasie
BARBARA HOGAN, aangehoudene, 1981
Lys van inhoud van Neil Aggett se sel ten tyde van sy dood (in Afrikaans)

NEIL AGGETT – oorlede op 5 Februarie 1982

Dr Neil Aggett het die regte van werkers gesteun en het 'n organiseerder vir die African Food and Canning Workers' Union geword. Hy het 'n sentrale rol gespeel om 'n boikot van Fattis & Monis-produkte te organiseer om die base te dwing om die werkers se reg om aan 'n vakbond te behoort, te erken. Die regering het sy vermoë om werkers te organiseer as 'n bedreiging beskou en het gesê hy is 'n kommunis.

Nadat 'n groot aantal vakbondleiers in 1981 in hegtenis geneem is, is Aggett om 03:25 opgehang in sy sel aangetref. Aggett het homself opgehang aan 'n serp wat deur 'n vriend vir hom gebrei is. Hierdie keer het die waarheid van sy dood egter aan die lig gekom aangesien 'n opspraakwekkende hofsaak gelei deur George Bizos getoon het dat Aggett se ondervraging van 80 uur die naweek voor sy dood tot sy emosionele ineenstorting gelei het. Die polisie is nietemin weer van blaam onthef omdat daar aangevoer is dat Aggett al lank selfmoordneigings gehad het.

Verslag oor Neil Aggett aan die Minister van Justisie, voltooi en onderteken deur die Inspekteur van Aangehoudenes op 25 Januarie 1982, minder as twee weke voor sy dood in aanhouding 
Verklaring uitgereik deur die Detainees' Parents Support Committee (DPSC) oor dr Neil Aggett se dood in aanhouding

"Dit was soos 'n speletjie, as jy dit so wil sien, waarvan die reëls deur hulle bepaal is en jy moes alles in jou vermoë doen om daardie reëls te verbreek of te rek, maar dit is baie duidelik gemaak dat geen toegang deur ons self of deur 'n regsverteenwoordiger toegelaat sal word nie en ons het toe van ander mense gehoor wat in 'n soortgelyke situasie was en ons het toe begin om met mekaar te skakel om te kyk wat ons daaraan kan doen.

Ons het gou agtergekom daar is dinge; daar is druk wat jy op hulle kan uitoefen. En dit was die speletjie waarmee ons begin het."

                                   - Max en Audrey Coleman, ouers van die gewese aangehoudene, Keith Coleman, en stigterslede van die DPSC  
'n Gewese aangehoudene, Jabu Ngwenya, oor kommunikasie tussen selle tydens aanhouding by John Vorsterplein
'n Gewese aangehoudene, Jabu Ngwenya, oor ondervraging en marteling by John Vorsterplein

ERNEST MOABI DIPALE – oorlede op 8 Augustus 1982

Ernest Dipale, uit 'n polities aktiewe familie, is in hegtenis geneem en aangehou op dieselfde tyd as Aggett in November 1981.

Hy het 'n verklaring voor 'n landdros afgelê waarin hy gekla het oor aanranding en marteling deur elektriese skokke. Van sy klagtes het daar niks gekom nie. Hy is uiteindelik na drie en 'n half maande vrygelaat.

Hy is op 5 Augustus 1982 weer in hegtenis geneem en is by John Vorsterplein aangehou. 

Vyf maande na Neil Aggett se dood is Ernest Dipale dood aangetref waar hy in sy sel gehang het. Hy het homself met 'n strook geskeurde kombers opgehang.

Dipale, wat ten tyde van sy dood net 21 jaar oud was, is ernstig aangerand en gemartel, insluitende die gebruik van elektriese skokke. 

Landdros se brief oor Dipale aan die Minister van Justisie

AC/2001/279 – Uittreksel oor die ontvoering van Dipale uit die aansoek van Butana Almond Nofomela aan die Amnestiekomitee van die WVK

"Die aansoeker het getuig dat hy opdrag van kaptein Jan Coetzee en luitenant Koos Vermeulen ontvang het om Moabi Dipale uit sy huis in Soweto te ontvoer om ondervra te word. Hy sou deur Joe Mamasela bygestaan word. Hulle wou inligting kry oor sy suster, wat in die volgende voorval 'n rol speel.

Hulle het na sy huis in Soweto gegaan en gevra of hy daar is. 'n Jong meisie het gesê hy is nie daar nie, maar toe hulle die huis binnegaan, het hulle hom gekry waar hy agter 'n klerekas wegkruip. Mamasela het hom daarvan beskuldig dat hy nie geld terugbetaal het wat hy hom geskuld het nie. Dit is as verskoning gebruik om hom te dwing om saam met hulle te gaan.

Hulle het hom Roodepoort toe geneem, waar hulle Jan Coetzee en Vermeulen gekry het. Daarna het hulle na Zeerust gegaan en van daar na 'n plaas in die omgewing waar Moabi ondervra is oor waar sy suster, Joyce Dipale, is. Tydens die ondervraging is hy so erg deur hulle aangerand dat hy sy bewussyn verloor het. Die aanrandings is deur Nofomela, Mamasela en Vermeulen uitgevoer. Grobbelaar en Coetzee het nie aan die aanrandings deelgeneem nie. Hy kan nie sê of hulle enige inligting gekry het wat hulle gehelp het met die latere aanval op Joyce Dipale in Botswana nie.

Hulle het later na Vlakplaas teruggekeer en hy kan nie sê wat daarna met Moabi Dipale gebeur het nie. Hy weet nie of hy aangehou of vrygelaat is nie. Die Komitee is seker dat daar aan die vereistes vir amnestie voldoen is, en amnestie word aan Nofomela VERLEEN ten opsigte van alle misdrywe en onregmatige dade wat regstreeks voortspruit uit die ontvoering van en aanranding op Moabi Dipale gedurende of omstreeks Oktober 1981."

CATHERINE HUNTER, aangehoudene, 1983

"Ek dink die 'bewaarders' het streng opdrag gehad, en hulle was dus passief, koud en baie minimaal. Al wat hulle gedoen het, was om die kos aan te gee.

Daar was geen oogkontak nie en ek dink dit was vir hulle vreemd dat 'n wit vrou 'n 'terroris' is, want baie van hulle was wit Afrikaanse vroue, en ek het dus waarskynlik nie by hulle stereotipe en profiel van 'n terroris gepas nie."

                                          - CATHERINE HUNTER, aangehoudene, 1983
Tronksel in groen ink, deur Catherine Hunter in aanhouding geteken
JAKI SEROKE, aangehoudene, 1987

"Die enigste ding wat jou laat oorleef, is omdat ons op hoë morele grond was. Ons het geveg vir vryheid, demokrasie, en dit was 'n goeie saak en dan sê jy vir jouself, 'Wat ook al met my gebeur, dit is ten minste vir 'n goeie saak.' Ek dink dit was wat ons gered het, dit meer as enigiets anders."

                                                                                                                                              - JAKI SEROKE, aangehoudene, 1987

STANZA BOPAPE – oorlede op 5 Junie 1988

Nadat die aktivis Stanza Bopape aan herhaalde elektriese skokke onderwerp is, het hy "onverwags" aan 'n hartaanval beswyk. As gevolg van kommer dat nog 'n sterfgeval in aanhouding die polisie in 'n slegte lig sal stel, is daar aangevoer dat Bopape uit aanhouding ontsnap het.

Gedurende die verhore voor die Waarheids- en Versoeningskommissie in 1997 het die polisie egter uiteindelik erken dat Bopape in aanhouding gesterf het en dat sy liggaam in die Nkomatirivier op die grens met Mosambiek gegooi is.

30 Januarie 1990 - CLAYTON SITHOLE sterf in aanhouding

Net 2 dae voordat Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is, is Clayton Sithole, 20 jaar oud, opgehang in sy sel aangetref. 

Voor sy selfmoord het Sithole na bewering verdoemende getuienis gelewer van kriminele optrede teen Winnie Mandela en haar dogter Zinzi. Sithole was trouens die vader van een van Nelson Mandela se kleinkinders.

Na die vrylating van Nelson Mandela in 1990 is wydverspreide veranderinge aangebring aan die veiligheidswette in die land.

Aanhouding sonder verhoor is uit die wetboeke verwyder. In 1991 is die Veiligheidstak in wese ontbind en met die Speurafdeling saamgevoeg in 'n eenheid bekend as "Misdaadbekamping en Ondersoek", en in 1995 het die Suid-Afrikaanse Polisiediens tot stand gekom.

Vyf en sewentig sterftes in aanhouding is amptelik aangeteken in die verslag van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Ondanks duidelike bewys dat die polisie aangehoudenes gemartel het, is nie 'n enkele polisieman vir die dood van 'n persoon in aanhouding verantwoordelik gehou nie.

"Daardie mense wat in daardie stadium by dié dinge betrokke was, wat nou sit met die skuld en die verantwoordelikheid en die openbare profiel – hulle begin om hulle na hulle gewese aangehoudenes te wend vir ondersteuning omdat die gewese aangehoudenes die enigste mense is wat regtig verstaan waaroor dit gaan.

Dis baie interessant, waar die skuldiges na hulle slagoffers kyk vir erkenning van waaroor dit gegaan het. Ek dink die aangehoudenes was duideliker oor wat aangegaan het as die mense daar buite. Dit was 'n geveg en dit was die snykant daarvan..."

              - DR ELIZABETH FLOYD, gewese aangehoudene, 1981 - 1992, en Neil Aggett se vriendin
Die herbenaming van John Vorsterplein, 1997 (met vergunning van die SABC)

In 1997 is die bronsbeeld van BJ Vorster uit die foyer van die berugte John Vorsterplein verwyder. 

Die naam is na Johannesburg Sentraal-polisiestasie verander en dit funksioneer nou om misdaad in Johannesburg te bekamp.

Ten spyte van hierdie veranderinge bly die sombere binnekant en klam reuk dieselfde. Die spoke van sy gewese okkupeerders is nog glad nie verdryf nie.

...dis die herinnering aan die revolusie en as dit weg is, is dit nutteloos om vir iemand te vertel hoe die plek gelyk het ... want daardie dinge is bewysstukke van wat hulle gedoen het om ons te benadeel, want die meeste mense is deur hierdie stelsel benadeel en as jy sulke dinge wegvat, verloor jy 'n groot deel van die verhaal...

                                                                                                                               - MOLEFE PHETO, aangehoudene, 1975
Ingang van die Johannesburg Sentraal-polisiestasie, 2007
Erkenning: storie

Curator — Catherine Kennedy (SAHA)
Archivist — Debora Matthews (SAHA)
Photographs — Craig Matthew (Doxa Productions)
Archival video footage — South African Broadcasting Corporation (SABC)
Background — This exhibit is based on the interactive DVD, 'Between life and death: stories from John Vorster Square', developed by Doxa Productions on behalf of SAHA in 2007, as part of the SAHA / Sunday Times Heritage Project, funded by the Atlantic Philanthropies. Please see DVD for full research and image credits. For more information about the SAHA / Sunday Times Heritage Project, please visit sthp.saha.org.za 

Erkennings: Alle media
Die storie hier is in sommige gevalle moontlik deur 'n onafhanklike derde party geskep en verteenwoordig nie noodwendig die sieninge van die instellings hieronder wat die inhoud verskaf het nie.
Vertaal met Google
Tuis
Verken
Naby
Profiel