06 Jul. 1942

Anne Frank

Anne Frank House

 Haar lewe, haar dagboek, haar nalatenskap

Anne Frank is een van die miljoene slagoffers van die vervolging van die Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Twee jaar lank het Anne en haar gesin in die anneks (agterhuis) agter haar pa se onderneming geskuil. Daar het sy haar dagboek geskryf.

Anne Frank is op die ouderdom van vyftien in ’n konsentrasiekamp oorlede.

Haar dagboek het die oorlog oorleef. Dit is in meer as sewentig tale vertaal en het Anne wêreldberoemd gemaak.

Die oorspronklike dagboek word in die Anne Frank-huis uitgestal.

Anne Frank, ’n dag oud, in haar ma, Edith, se arms. Frankfurt am Main, 13 Junie 1929.

Kindertyd in Duitsland

Anne Frank word op 12 Junie 1929 in Frankfurt am Main, Duitsland, gebore. Sy is die tweede en jongste dogter van Otto Frank en Edith Frank-Holländer. Margot, Anne se suster, is drie jaar ouer. Die Frank-gesin is Joods.

Otto Frank met sy dogters, Margot en Anne, Augustus 1931.

Otto Frank werk in sy familie se bank. Die groot ekonomiese krisis in Duitsland maak dit egter moeilik om sake te doen. Otto en Edith Frank is baie bekommerd oor hulle toekoms. Antisemitisme neem toe. Al hoe meer mense steun die antisemitiese NSDAP, Adolf Hitler se party. In 1933 kom Hitler aan bewind in Duitsland. 

Otto Frank kry die kans om ’n tak van Opekta in Amsterdam te open. Opekta verkoop pektien, ’n stolmiddel vir konfyt.

Otto en sy vrou besluit om na Nederland te emigreer.

Veilig in Amsterdam

In 1933 trek die Frank-gesin na ’n woonstel op die Merwedeplein in Amsterdam-Suid, ’n buurt waar baie Joodse vlugtelinge ’n heenkome vind.

Anne en Margot kry Nederlands vinnig onder die knie, en hulle voel sommer gou tuis. Anne is ’n lewendige, nuuskierige meisie wat graag die middelpunt van belangstelling is. Margot is stiller en ernstiger. Sy behaal altyd goeie punte op skool.

Otto Frank vestig sy onderneming in die middestad van Amsterdam. Hy werk hard en is daarom min by die huis. Edith Frank sukkel om aan haar nuwe lewe in Nederland gewoond te raak. Sy verlang na Duitsland en is baie besorg oor haar familie wat daar moes agterbly.

Miep Gies vertel van haar werk by Opekta, Otto Frank se onderneming.

In Duitsland voel die Jode al hoe meer bedreig.

In November 1938 vind ’n groot pogrom, die ‘Kristalnag’, plaas.

In Maart 1939 verlaat Edith se ma Duitsland en trek by die Frank-gesin in.

In 1939 val Duitsland Pole binne. Daarna verklaar Engeland en Frankryk oorlog teen Duitsland.

Warskou word gebombardeer. Die vervolging van die Jode begin feitlik onmiddellik.

Die Duitse inval in Nederland

In Mei 1940 val Duitsland Nederland in. Nadat Rotterdam gebombardeer word, gee die Nederlandse regering  oor. Só begin die Duitse besetting.

Generaal Winkelman kom by die Duitse hoofkwartier aan om die Nederlandse akte van oorgawe te onderteken, 15 Mei 1940.

Anti-Joodse regulasies

Kort na die inval van 1940 begin die Nazi’s anti-Joodse regulasies instel. Dit maak die lewe vir Jode nóg moeiliker. Joodse staatsamptenare word ontslaan. Jode mag nie meer parke, swembaddens en bioskope besoek nie, en Joodse kinders moet afsonderlik skoolgaan.  

Anne Frank voor die venster van haar huis in Amsterdam. 

Anne se dagboek

Op 12 Junie 1942 word Anne dertien jaar oud. Een van haar geskenke is ’n rooi-en-wit geruite dagboek. Sy begin dadelik daarin skryf. Haar dagboek is haar waardevolste besitting en sy neem dit saam met haar toe die gesin drie weke later ‘onderduik’ (skuiling inneem).

Die vervolging van die Jode

Namate die Duitse besetting van Nederland voortduur, word omstandighede in Nederland al hoe gevaarliker vir Jode. Vanaf Mei 1942 moet alle Jode ’n geel ster op hulle klere dra. Vanaf die begin van Julie van daardie jaar word Jode opgeroep om hulle vir werk aan te meld, en word hulle na bewering na werkskampe in Duitsland gestuur. In werklikheid word hulle na konsentrasiekampe gedeporteer om vermoor te word.

Om aan die deportasie te ontsnap, het Otto en Edith Frank ’n geheime skuilplek in die anneks agter Otto se onderneming, die agterhuis, ingerig. Op 5 Julie 1942 is Margot Frank een van die eerstes wat opgeroep word om haar vir ’n werkskamp aan te meld. Die volgende dag vertrek die Frank-gesin na hul skuilplek aan die Prinsengracht.

Die Franks deel hul skuilplek met Otto se sakevennoot, Hermann van Pels, sy vrou, Auguste, en hul seun, Peter. Otto se werknemers, Bep Voskuijl, Victor Kugler, Johannes Kleiman en Miep Gies, en Miep se man, Jan, voorsien hulle van kos.

Bedags moet die versteektes baie stil wees. Die werkers onder in die pakhuis mag nie agterkom dat daar Jode in die agterhuis skuil nie. Die versteektes mag slegs saans en oor naweke hardop praat en die toilet spoel.

Na ’n paar maande, op 16 November 1942, neem ’n agtste persoon sy intrek in die agterhuis: Fritz Pfeffer. Hy is Miep Gies se tandarts. Om vir hom plek te maak, trek Margot na haar ouers se slaapkamer, en deel Anne haar kamer met Fritz Pfeffer.

‘Ons Joodse kennisse word in groepies weggeneem. Die Gestapo gaan allesbehalwe sagkens met hierdie mense te werk (...) As dit in Holland al so erg is, hoe sal hulle dan leef in die verre en barbaarse streke waarheen hulle gestuur word? Ons neem aan dat die meeste vermoor word. Die Engelse radio praat van vergassing; miskien is dit wel die vinnigste manier van sterf.’

Anne Frank, 9 Oktober 1942

Klopjag op Jode in Amsterdam, 26 Mei 1943.
’n Trein vertrek uit Westerbork na Auschwitz.

‘Jy weet al lankal dat my grootste begeerte is om journaliste (sic) en later ’n groot skryfster te word.’

Anne Frank, 11 Mei 1944

‘Sou die langverwagte bevryding dan nou uiteindelik naderkom? (...) O, Kittie, die mooiste van die inval is dat ek die gevoel het dat daar vriende in aantog is.’

Anne Frank, 6 Junie 1944

Entoesiasties en hoopvol volg die  ‘onderduikers’ die nuus oor die Normandiese inval. Otto Frank hang ’n kaart teen die muur van die Franks se kamer in die agterhuis. Met spelde dui hy daarop aan hoe ver die geallieerdes al opgeruk het.

Anne se dood

Op 4 Augustus 1944 word die ‘onderduikers’  in hegtenis geneem – iemand het hulle verraai. Hulle word na die deurgangskamp Westerbork in Nederland gestuur. Op 3 September word hulle gedeporteer na Auschwitz-Birkenau, ’n konsentrasiekamp in Pole, wat in daardie stadium deur Duitsland beset is. Dáár word die mans en vroue van mekaar geskei. Anne sien haar pa vir die laaste keer. Sy word saam met Margot en Edith in ’n barak vir vroue geplaas.

Teen die einde van Oktober word Anne en Margot na die konsentrasiekamp Bergen-Belsen in Duitsland oorgeplaas. Hulle ma, Edith, bly in Auschwitz-Birkenau agter waar sy op 6 Januarie 1945 sterf.

Na ’n aaklige treinrit van drie dae kom Anne en Margot in Bergen-Belsen aan. Die kamp is oorvol en hulle moet in tente bly. Toe die tente in ’n kwaai storm uitmekaar geruk word, word die gevangenes na reeds oorbevolkte barakke verskuif.

Bergen-Belsen is verskriklik. Daar is bitter min kos en die higiëne is power. Baie van die gevangenes word siek en sterf. Margot en Anne doen tifus op. Hulle sterf in Maart 1945, slegs ’n paar weke voor die kamp bevry is.

Hanneli Goslar en Anne Frank ken mekaar al vanaf hul kleuterskooldae. Hulle het mekaar sedert 1942, toe Anne-hulle ‘ondergeduik’ het, nie meer gesien nie. In Bergen-Belsen onthou Hanneli die laaste keer wat sy met Anne gepraat het.

Nadat die Russe Auschwitz op 27 Januarie 1945 bevry het, is Otto Frank vry. Hy is die enigste van die agt ‘onderduikers’ wat die oorlog oorleef het. 

7 Mei 1945, die oorgawe van die Duitse weermag in Wes-Europa in Reims, Frankryk.

Otto keer terug

Na ’n lang en chaotiese reis kom Otto Frank in Junie 1945 in Amsterdam aan. Hy trek by Miep en Jan Gies in. Hy weet reeds dat sy vrou, Edith, dood is, maar weet nog nie van sy dogters se lot nie.

’n Paar weke later verneem hy dat Anne en Margot albei dood is. Tóé eers gee Miep hom Anne se dagboek. Sy het dit sedert die Frank-gesin se inhegtenisname bewaar.

Otto Frank en die vier helpers, Augustus 1945. Agter: Johannes Kleiman en Victor Kugler. Voor: Miep Gies, Otto Frank en Bep Voskuijl.

Die dagboek word gepubliseer

Na ’n lang gewik en geweeg besluit Otto Frank om Anne se dagboek te publiseer. Aanvanklik sukkel hy om ’n uitgewer te kry. Otto lê die dagboek aan verskeie mense voor. Een van hulle is die historikus Jan Romein.

Romein skryf ’n artikel daaroor vir die nasionale dagblad Het Parool op 3 April 1946, en dit trek die uitgewery Contact se aandag. Hulle besluit om die dagboek te publiseer. Het Achterhuis verskyn op 25 Junie 1947. Anne se droom om ’n skrywer te word, word ná haar dood ’n werklikheid.    

Die verskyning van die Engelse uitgawe, Anne Frank: The diary of a young girl, in 1952 laat Anne se dagboek groot bekendheid verwerf. In 1955 verwerk twee Amerikaanse dramaturge dit tot ’n toneelstuk, en dit behaal groot Broadway-sukses.

In 1959 word die toneelstuk verfilm. Milly Perkins vertolk die rol van Anne Frank. 

Van skuilplek tot museum

Vanweë die sukses van haar dagboek begin mense in Anne Frank se skuilplek belang stel. Kort voor lank begin hulle by Opekta aanklop om die agterhuis te sien, en word hulle deur die werknemers van Opekta rondgelei. In 1955 verskuif die onderneming. Omdat die gebou vervalle is, is daar planne om dit te sloop. Danksy die pogings van ’n groep vooraanstaande burgers van Amsterdam word die gebou egter gered. Saam met Otto Frank rig hulle die Anne Frank-stigting op. Die deure van die Anne Frank-huis open op 3 Mei 1960 vir die publiek.

’n Groep Amerikaanse studente uit Scarsdale besoek die Anne Frank-huis in 1961.

In 1953 trou Otto Frank met Fritzi Markovits, waarna hulle na Switserland verhuis. Anne se dagboek speel steeds ’n belangrike rol in Otto se lewe. Hy ontvang duisende briewe van lesers wêreldwyd, wat hy en Fritzi beantwoord. Otto sterf in 1980.

Sedert dit in 1960 geopen is, het baie mense al die Anne Frank-huis besoek. Omdat die besoekerstalle aanhou toeneem, word ’n nuwe gebou in die middel-negentigerjare op die hoek van die Prinsengracht en Westermarkt opgerig. Deesdae ontvang die museum meer as ’n miljoen besoekers per jaar.

Hieronder is ’n filmfragment van Miep Gies se laaste besoek aan die museum. Kort voor die opening van die opgeknapte museum in 1999 rangskik sy ’n paar van haar persoonlike dokumente in ’n vertoonkas. 

Miep Gies is een van die ‘onderduikers’ se helpers.

Vir diegene wat nie die museum in Amsterdam kan besoek nie, het die Anne Frank-huis “Die Agterhuis Aanlyn” geskep – ’n driedimensionele voorstelling van die gebou waarin Anne en haar gesin tydens die oorlog geskuil het.

Die Anne Frank-stigting is ’n onafhanklike organisasie wat verantwoordelik is vir die bewaring van die plek waar Anne Frank tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘ondergeduik’ en haar dagboek geskryf het. Die stigting maak mense wêreldwyd van Anne se lewensverhaal bewus om hulle oor die gevare van antisemitisme, rassisme en diskriminasie sowel as die belang van vryheid, gelyke regte en demokrasie te laat nadink. 

Die agtergrond van hierdie aanlyn uitstalling toon ’n muur van Anne Frank se kamer in die agterhuis waarteen sy allerhande prente opgeplak het.

Erkenning: storie

This exhibit has been created by the Anne Frank House
in Amsterdam. — For more information, visit http://www.annefrank.org. 

Diary quotes Anne Frank: —
Anne Frank: The Diary of a Young Girl : the definitive edition. Ed. by Otto H. Frank and Mirjam Pressler; transl. by Susan Massotty. — Copyright © The Anne Frank - Fonds, Basle, Switzerland, 1991, 2001
English translation of the diary — Copyright © Doubleday, a division of Random House, Inc. 1995, 2001

Erkennings: Alle media
Die storie hier is in sommige gevalle moontlik deur 'n onafhanklike derde party geskep en verteenwoordig nie noodwendig die sieninge van die instellings hieronder wat die inhoud verskaf het nie.
Vertaal met Google
Tuis
Verken
Naby
Profiel