Die Roemeense Revolusie, regstreeks uitgesaai

TVR, The Romanian Public Broadcaster

"Gewere kan nie siele verpletter nie. Dit kan nie ideale vernietig nie"
Koning Michael van Roemenië in 'n verklaring oor Radio Bevry Europa
Die nasionale televisietoring tydens die Roemeense Revolusie
Die noodtoestand word afgekondig

Omdat die weermagoptrede nie daarin geslaag het om die teenkommunisitiese opstand in Timișoara te onderdruk nie, het Nicolae Ceaușescu besluit om 'n landswye noodtoestand te verklaar.

Op 22 Desember het die eerste uitsending van die Roemeense televisie-uitsaaier om 10:51 begin met die speel van die volkslied ("Trei culori" – Drie kleure). Onmiddellik daarna het die televisieaanbieder George Marinescu die "Presidensiële verordening oor die afkondiging van 'n landwye noodtoestand" voorgelees.

Luidens dié dokument sou alle weermageenhede op bystandsdiens wees, openbare vergaderings sou verbode wees, en byeenkomste van meer as vyf mense, asook alle beweging snags ná 23:00, sou verbied word.

"Die werkersklasse moet alles beskerm wat bereik is: die soewereiniteit en onafhanklikheid van die land" (Nicolae Ceaușescu se presidensiële verordening)

Die eerste revolusie wat regstreeks uitgesaai is

Betogers in die binnehof van die nasionale televisie-uitsaaier

Die eerste groep betogers het die hoofkantoor van Televiziunea Română, die nasionale televisie-uitsaaier, omstreeks 11:00 bereik. Hulle het die bestuur gevra om inligting oor die toestand van die opstande in die land uit te saai.

Die direkteur van die netwerk het hul versoek aanvanklik verwerp, maar ná 'n reeks gesprekke het verteenwoordigers van die uitsaaier belowe dat 'n versterkingstasie in die binnehof opgerig sou word. Hulle het ateljee 4 uiteindelik vir die eerste regstreekse uitsending van 'n revolusie opgerig.

Die opstandelinge en televisiepersoneellede is om 12:47, terwyl George Enescu se Roemeense Rapsodie op die agtergrond gespeel het, afgeneem terwyl hulle die finale voorbereidings in ateljee 4 getref het voordat daaar met die uitsendings begin is.

Voor die eerste regstreekse uitsending van die Vrye Televisie

"Ons het oorwin!"

Die eerste regstreekse televisie-uitsending.

Ateljee 4 het om 12:51 begin uitsaai. Die akteur Ion Caramitru en die digter Mircea Dinescu het eerste gepraat. "Broers, deur die genade van God (maak die teken van die kruis) is ons nou in die televisieateljees," het Ion Caramitru eerste gesê.

Hy het die weermag, die studente, die mense om hom bedank, asook die ander "derduisende Roemeniërs en mense met ander nasionaliteite wat ons gelei het".

"Ons moet geduld hê. Ons het 25 jaar lank gewag; ons kan nog 'n paar minute wag. Die volk het oorwin!" (Mircea Dinescu)

Die digter Mircea Dinescu het aangekondig dat daar aan 'n program en 'n proklamasie aan die nasie gewerk word. Hy het 'n oproep om kalmte en wysheid gedoen. "Genoeg bloed is vergiet," het Dinescu gesê.

Betogers het die binnehof van die nasionale televisie-uitsaaier volgestaan

Besluite is tydens die revolusie in drie hoofgebiede geneem. Een van hulle was die televisie, waardeur Roemeniërs van die ontwikkeling van gebeure ingelig is en waar die hoofrolspelers bevele regstreeks uitgereik het. Die tweede fokuspunt was die hoofkantoor van die sentrale komitee van die Roemeense Kommunistiese Party, waar die eerste stappe uiteengesit is om die toekomstige magstrukture te vorm. Die derde was die hoofkantoor van die ministerie van nasionale verdediging, wat die militêre optrede in daardie stadium gekoördineer het.

Televisie is omskep in die kommunikasiekanaal van die opstandelinge. Andersdenkendes, voormalige kommuniste, akteurs en laervlak-politici van die Kommunistiese Party wat hul verbintenis tot die nuwe beweging in die land wou toon, het hul mening in die televisieateljees gelug.

Sommige van hulle het hul verskyning oor die televisie beskou as 'n manier om "hul sondes weg te was" of as 'n manier om voordeel te trek uit die magsleegte wat ontstaan het nadat die regime omvergewerp is. Hul woorde het, tesame met die nuusontwikkelings wat die televisieaanbieders voorgehou het, dikwels tot 'n groter gevoel van paniek en gebrek aan veiligheid onder die volk gelei.

Generaals en verteenwoordigers van verskeie weermagstrukture het na die televisieateljees gegaan en alle partye in die openbaar versoek om die skietery te staak.

Hulle het die onttrekking van alle weermagtroepe aan die land gelas en soldate gevra om voorbereid te wees op moontlike aanvalle deur Ceaușescu-gesinde en terroristetroepe.

Televisieateljee 5 saai die amptelike aankondiging van generaal Ștefan Gușă, hoof van die gewapende magte, aan alle militêre eenhede in die land uit.

"Alle eenhede en subeenhede moet na hul barakke terugkeer. Niemand moet onder enige omstandighede op burgerlikes skiet nie. Ons het vrede en kalmte in ons land nodig," sê generaal Gușă.

Pa en seun in die binnehof van die nasionale televisieuitsaaier

"Alle militêre eenhede in hul barakke moet waaksaam bly en moet deurentyd gereed wees vir 'n teenaanval of om sterk terug te slaan teen dié wat die nuwe politieke, maatskaplike, demokratiese ingesteldheid van ons land probeer skaad."

"Terselfdertyd versoek ek die bevelvoerders van alle weermaggarnisoene wat met operasies besig is, veral die Sibiu-garnisoen en ander, om die algemene magstrukture te kontak en dringend op te tree om alle militêre of ander operasies van 'n gewelddadige aard so gou moontlik te beëindig, want dié operasies is waarlik nutteloos."

(Generaal Chiţac Mihai, bevelvoerder van die Boekarest-garnisoen)

"Dis makliker om Ceaușescu dood te maak as om die stelsel te verander." (Dan Petrescu, 26-27 Januarie 1988, Bevrydingsdagblad)

Die voorblad van die voormalige Kommunistiese koerant Scînteia ("Die Vonk")

"Ons koerant sal vandag oor 'n paar uur verskyn as 'n nuwe, spesiale uitgawe, 'n patriotiese en ware uitdrukking van die volk."

"Scînteia" was vroeër die amptelike spreekbuis van die Roemeense Kommunistiese Party. Die dagblad, wat in 1931 gestig is, is tot 1944 onwettig gedruk waarna dit die spreekbuis van die nuwe magstrukture in die land geword het. Op 22 Desember 1989 het die koerant sy naam in "Scînteia poporului" ("Die Volk se Vonk") verander, en in die 1990's het dit in "Adevărul" ("Die Waarheid") verander - wat vandag nog uitgegee word.

Die jongste nuus dat Ceaușescu en sy vrou gevlug het

Die regstreekse uitsendings van gesprekke in die televisieateljees het 'n belangrike rol tydens die revolusie gespeel. Daardeur het mense die jongste inligting oor die ontwikkelende gebeure in Boekarest en in hul stede gekry. Die televisie het 'n funksionele kommunikasiekanaal geword.

Terselfdertyd het die televisie ook inligtingchaos veroorsaak. Niemand het seker gemaak dat die inligting korrek was wat televisieaanbieders aangekondig het nie, en dit het tot groter paniek en onrustigheid onder die algemene volk bygedra. Gerugte – wat as "dringende versoeke" en "belangrike inligting" voorgehou is – het die chaos in die land vergroot en tot die verlies van baie onskuldige lewens gelei.

 

Een van dié gerugte wat oor die televisie aangekondig is, was die "nuusitem" dat die drinkwater in verskeie stede deur terroristemagte vergiftig is. Dié inligting is deur die aanbieder Teodor Brateș voorgelees – wat ook aangekondig het dat terroriste die bloedbank van die Fundeni-hospitaal in Boekarest opgeblaas het.

Luitenant-kolonel Marius Oprean het voor die kamera verklaar: "Stel groot hoeveelhede gebottelde mineraalwater, bier en wyn met lae alkoholinhoud beskikbaar (redakteursnota: hy het met vervaardigers in die voedselbedryf gepraat). Moenie enige kraanwater drink nie."

Petre Popescu, nog 'n aanbieder, het gesê daar was 'n geheime lughawe in Pietroaia, die plek waarheen die Ceaușescus vermoedelik op pad was. "Burgers in die omliggende gebiede het die een of ander aktiwiteit daar opgemerk (...) Dit lyk of die egpaar dalk daarheen op pad is," het hy gesê.

In nog 'n toespraak het Teodor Brateș gesê dat mense gratis drankies in kroeë in Boekarest gekry het om dronk te word en gevolglik vandalisme te pleeg. "Kom ons bly waardig as mense en raak nie dronk nie. Laat ons net dronk raak deur uit die beker van vryheid te drink," het Brateș gesê.

Roemeense televisieaanbieders spreek Roemeense soldate toe en sê hulle aan om hul wapens te gebruik om hul land te verdedig - sonder om vir bevele van hul bevelvoerders af te wag. "Laat die tenks die geboue gaan platstoot waarin dié misdadigers is," sê Brateș, terwyl nog 'n aanbieder die boodskap oordra: "Die volk gee julle nou bevele. Hou op om vir bevele van bevelvoerders af te wag wat dalk te veel deur die diktatorskap teruggehou word."

"'n Konvooi pantservoertuie is na Pitești op pad om die kernbates, die raffinadery, die sianieddamme, die dam by Curtea de Argeș te beset! Sodra dié bates val, kan die stad Pitești basies maar van die kaart afgevee word!" (Die opstandeling Cazimir Ionescu)

Dan Marin, voormalige wêreldkampioen, wat deur betogers daarvan beskuldig is dat hy 'n terroris was

Namate die vrees vir moontlike aanvalle deur Ceaușescu-gesinde en terroristetroepe toegeneem het, is gewone mense of blote betogers met "terroriste" verwar. Dan Marin, voormalige wêreldkampioen en lid van die nasionale handbalspan, is deur opstandelinge aangekeer en daarvan beskuldig dat hy 'n terroris was. Hulle het hom geslaan en na die televisieateljees gebring om die "misdade" te erken wat hy teen die Roemeense volk gepleeg het.

Die aanklagte wat teen die Kommunistiese regime ingebring is, is regstreeks voor al die kykers hanteer, en dié wat in die ateljee teenwoordig was, het die regters namens die volk geword. Die televisie het 'n ad hoc-hof geword. Iol Iliescu het in sy eerste gesprek aanklagtes teen die Ceaușescus ingebring en gesê hulle sou aan "duidelike, helder beslissing op grond van 'n gewone verhoor" onderwerp word. Die weermaggeneraals wat pas heraangestel is, het dieselfde idee voorgehou.

Betogers drom buite die nasionale televisieateljees saam

Die televisie het in daardie dae 'n ad hoc-hof geword. Dié "funksionaliteit" kan die duidelikste gesien word in die oomblik toe Nicu Ceaușescu, die Ceaușescus se jongste seun, die ateljee ingebring is. Hy is die aand van 22 Desember voor die kameras in ateljee 4 geplaas om vir die Roemeense volk "aangebied" te word.

'n Groep soldate wat van Sibiu teruggekeer het, het Nicu Ceauşescu aangekeer. 'n Groep betogers het die motor aangeval waarin hy na die middestad gery het, en Nicu is in die bors gesteek. Hy is voor die kameras as die "klein prins" voorgehou en van die ontvoering van kinders beskuldig.

Nicu Ceauşescu, seun van Nicolae en Elena Ceaușescu, deur betogers aangekeer
Die eerste regstreekse uitsending van 'n toespraak deur Ion Iliescu, toekomstige president van Roemenië

Ion Iliescu het op 22 Desember om 12:00 sy eerste verklaring gedoen. Hy het Roemeniërs in sy toespraak daarvan verseker dat hy die weermag se steun het. "Die situasie is op die oomblik taamlik onder beheer. Ek het 20 minute gelede oor die foon met generaal Victor Stănculescu gepraat. Hy is in die hoofkantoor van die ministerie van nasionale verdediging. Hy het die onttrekkingsbevel uitgereik aan troepe wat in die stad was met bevele om te skiet, en hy het 'n weermagkonvooi teruggestuur wat beveel is om van Pitești na Boekarest te kom," het Iliescu gesê.

Hy het ook gesê dat 'n tydelike owerheid, genaamd die Nasionale Reddingsfront, dieselfde aand aan die volk voorgehou sou word.

Hy het ook 'n oproep om kalmte en orde gedoen: "Ons moet in dié tyd ons volwassenheid toon sodat ons ons op 'n demokratiese grondslag kan herorganiseer," het Iliescu gesê.

Die nuutgeskepte Nasionale Reddingsfront versoek almal om op te hou skiet

'n Lid van die nuutgeskepte raad van die Nasionale Reddingsfront lees 'n amptelike aankondiging voor waarin 'n "onmiddellike" skietstilstand in die land versoek word. "Enigiemand wat dié opdrag oortree, sal skuldig bevind word aan misdade teen die Roemeense volk. (...) Laat ons verdere bloedvergieting voorkom," sê hy. Daarna het die verteenwoordigers van die raad van die Nasionale Reddingsfront die volk gevra om alle wapens terug te gee wat hulle die afgelope paar dae ontvang het, en Iliescu het Roemeniërs gevra om met plaaslike owerhede saam te werk om die chaos en maatskaplike wanorde te beëindig.

Betogers in die binnehof van die nasionale televisie-uitsaaier

"Die Nasionale Reddingsfront se oogmerk is om demokrasie, vryheid en die waardigheid van die volk te herstel. Al die magstrukture van die Ceaușescu-kliek word hiermee ontbind." (Eerste regstreekse uitsending van Ion Iliecu se toespraak)

Ion Iliescu lees die eerste amptelike aankondiging van die raad van die Nasionale Reddingsfront, die nuwe liggaam in beheer van die oorgang vanaf 'n Kommunistiese na 'n demokratiese stelsel, voor. Die raad van die Nasionale Reddingsfront het aanvanklik 40 lede gehad, onder wie Roemeense andersdenkendes, weermagoffisiere, skrywers, ensovoorts. Sommige van hulle het hul later aan die raad van die Nasionale Reddingsfront onttrek nadat die raad daarop ingestel geraak het om 'n politieke party te word.

Iliescu het die eerste items op die agenda van die raad van die Nasionale Reddingsfront aangekondig. Die land sou Roemenië genoem word (tydens die Kommunistiese regime het dit amptelik die naam Die Sosialistiese Republiek van Roemenië gehad); daar sou nie meer 'n enkele staatsparty wees nie, maar 'n "pluralistiese demokratiese regeringstelsel". Die raad van die Nasionale Reddingsfront sou die eerste vrye verkiesing vir April 1990 reël.

Tonele van gewapende skermutselings in Primăveriiboulevard langs die hoofkantoor van die nasionale televisiediens

Nadat die Ceaușescus gevlug het, het 'n reeks gerugte en ongeverifieerde inligting oor teenaanvalle deur terroriste deur die land versprei.

Die botsings met dié "ongeïdentifiseerde magte" het die aand van 22 Desember begin. Die ministerie van verdediging het troepe gestuur om die belangrikste geboue in die hoofstad, waaronder die televisiehoofkantoor, te beskerm.

Die televisiehoofkantoor is op 23 Desember aangeval en die uitsendings is vir 'n kort rukkie onderbreek.

Om te toon wat in daardie stadium te midde van die chaos en gebrek aan samehangende kommunikasie tussen instellings gebeur het, kan ons oor die geval van die kunsmuseum en dié van die sentrale biblioteek van die Universiteit van Boekarest uitwei. Die leër het dié gebou aangeval onder die indruk dat terroristetroepe daar geskuil het.

Die gevolg: talle kunswerke en byna 500 000 boeke, waarvan baie as deel van Roemenië se nasionale erfenis beskou is, is vernietig.

Slagoffers:

Daar was voor 22 Desember 129 slagoffers, en daarna is nog 747 mense dood. Dié inligting is afkomstig vanaf die Instituut vir die Roemeense Revolusie van Desember 1989.

"Die mensdom buig voor die grootsheid van die Roemeense volk"

The Independent, aanhaling van die nuusagentskap Agerpres

Erkenning: storie

Editor contributor — George Gurescu
Editor contributor — Monica Paula Coman
Editor contributor — Alina Conţeanu
Editor contributor — Lina Vdovîi
Editor arhive — Mihai Ciobanu
Operator film 16 mm — Carmen
Drăghici

Documentare foto — Irina Bartolomeu
Editor foto/video — Silviu Panaite
Coordonator proiect — Dorian Stoica

Erkennings: Alle media
Die storie hier is in sommige gevalle moontlik deur 'n onafhanklike derde party geskep en verteenwoordig nie noodwendig die sieninge van die instellings hieronder wat die inhoud verskaf het nie.
Vertaal met Google
Tuis
Verken
Naby
Profiel