Die berg Ararat is 'n alleenstaande berg in die uiterste noordooste van Turkye wat deur hoë vlaktes omring word. Die berg, wat nie ver van die grense met Armenië, Azerbeidjan en Iran geleë is nie, het twee vulkaniese pieke: Die sneeubedekte Groot Ararat en Klein Ararat. Ararat is die hoogste bergpiek in Turkye en in die hele Armeense Hoogland. Die twee pieke maak sedert 2004 deel uit van 'n nasionale park.
Ararat is 'n sluimerende vulkaan, en alhoewel daar geen uitbarstings in historiese tye aangeteken is nie, neem navorsers aan dat die piek wél in die laaste 10 000 jaar uitgebars het. Aangesien die vulkaan veraf van enige tektoniese plaatgrens geleë is, is daar tans nog geen wetenskaplike verklarings vir Ararat se vulkaniese aktiwiteit nie.