Rosa Luxemburg was een van die belangrike leiers van die Europese arbeidersbeweging en 'n vasbeslote voorstander van die proletariese internasionalisme.
Sy lewer veral in die Poolse en Duitse sosiaal-demokratiese beweging 'n groot bydrae tot die Marxistiese teorie en tree as 'n baie aktiewe antimilitariste op. As 'n protes teen die Duitse deelname in die Eerste Wêreldoorlog stig sy in 1914 die Gruppe Internationale en word saam met Karl Liebknecht leier van die latere Spartakusbund, wat as opvolger van die Gruppe Internationale optree.
As politieke skrywer gee sy 'n groot aantal essays, wat die beleid van haar tydperk kritiseer, en ekonomiese analises uit. Sy word later mede-uitgewer van die linkse koerant Die Rote Fahne.
Teen die einde van die jaar 1918 is sy een van die stigters van die Kommunistiese Party van Duitsland en stel sy partyprogram saam.
Na die mislukte Spartakus-opstand van 1919 is Rosa Luxemburg saam met Karl Liebknecht op 15 Januarie deur anti-republikeinse Freikorpslede in Berlyn vermoor. Die presiese omstandighede van hierdie politieke moord is nie bekend nie.