Siprus, ook Ciprus, amptelik die Republiek Siprus, is 'n eilandnasie op die eiland Siprus in die noordooste van die Middellandse See, sowat 70 km suid van Turkye, 100 km wes van Sirië, en 500 km oos van Griekeland. Siprus is die derde grootste en derde mees bevolkte eiland in die Middellandse See ná Sisilië en Sardinië. Dit het vlaktes aan die suidkus en ’n sentrale vlakte met berge noord en suid daarvan. Die hoofstad en grootste stad is Nicosia. Ander belangrike stede op die eiland is Limassol, Larnaca, Paphos, Famagusta en Kyrenia.