Apartheid, soms geëufemiseer tot afsonderlike ontwikkeling, verwys na 'n politieke bestel, ideologie en beleid wat op rasseklassifikasie gegrond is en tussen 1948 en 1994 as amptelike beleid in Suid-Afrika gegeld het. Die woord apartheid dui oorspronklik op 'n toestand van apart of afgesonder wees. Met die implementering van die Nuwe Benadering van P.W. Botha in 1984 na afloop van die referendum in 1983, is 'n beleid van magsdeling daargestel waarmee tentatiewe stappe gedoen is om ander groepe by die regering te betrek. Dit het egter steeds die swart meerderheid uitgesluit en is deur die meeste mense in Suid-Afrika en in die buiteland verwerp. Onder apartheid is lede van verskillende rasse geskei en is swart mense stemreg binne die sogenaamde "wit" Suid-Afrika ontsê. Die invoer van die beleid veroorsaak oneindige leed aan miljoene Suid-Afrikaners deur gedwonge verskuiwings, beperkings op beweging, indiensneming en gewelddadige onderdrukking van die vryheidstryd. Vele ander wette en reëlings soos die Groepsgebiedewet, Ontugwet en die Wet op Afsonderlike Geriewe dra by tot die daaglikse vernedering van swart en gekleurde mense.