Nieu-Seeland is 'n eilandnasie in die suidwestelike Stille Oseaangebied. Geografies bestaan dié land, wat in 1840 tot Britse kolonie verklaar is en in 1907 'n dominium binne die Britse Gemenebes van Nasies geword het, uit twee hoofeilande en 'n aantal kleiner eilande. Nieu-Seeland is 'n grondwetlike monargie met koningin Elizabeth II as staatshoof en 'n eenkamerparlement met 121 afgevaardigdes.
'n Algemene Māorinaam vir Nieu-Seeland is Aotearoa, meestal vertaal as Land van die Lang Wit Wolk. Nieu-Seeland staan bekend vir sy isolasie: dié land word deur die Tasmansee, wat ongeveer 2 000 kilometer wyd is, van sy noordwestelike buurland Australië geskei. Die naaste buurlande is Nieu-Kaledonië, Fidji en Tonga in die noorde en Antarktika in die suide. Weens sy afgeleë ligging was Nieu-Seeland – behalwe vir Antarktika – die laaste groot landmassa waar mense hulle gevestig het.
Nieu-Seeland kan nóg in geografiese nóg in kulturele opsig by 'n bepaalde vasteland gereken word: dié land lê gedeeltelik op die Australiese asook die Pasifiese Plaat en toon sowel ooreenkomste met die hoofsaaklik Europese kultuur van Australië as die Polinesiese gedeelte van Oseanië.