Milaan is met 'n bevolking van 1,37 miljoen die tweede grootste stad van Italië na Rome, geleë in die sentrale gedeelte van die Povlakte waar dit deur uitgestrekte voorstedelike sones omring word. Dit is die hoofstad van die provinsie of Metropolitane Stad Milaan en van die administratiewe gebied Lombardye, die ekonomies mees ontwikkelde en ook mees digbevolkte streek in Italië. Die Metropolitane Stad Milaan het 'n bevolking van 4,5 miljoen, terwyl Grande Milano, die metropolitaanse gebied van Milaan, sewe miljoen inwoners het.
In die antieke tydperk het Milaan, wat oorspronklik deur Keltiese setlaars gestig is, as Mediolanum bekendgestaan. Die stadsnaam is afgelei van die Keltiese Medelhan en beteken "in die middel van die plein". In die Romeinse Ryk het Mediolanum vinnig tot een van die belangrikste stedelike nedersettings gegroei. In sy latere geskiedenis het die stad onder die invloed van Duitse, Franse en Oostenrykse heersers gekom. Ná die vereniging van Italië in 'n monargiese eenheidstaat het Milaan vinnige industrialisering ervaar.